top of page

Junior kategese geselsbriefie: 4 Junie

Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Pinkstertyd, die tien dae na Hemelvaart.

Jaar tema:

Ene ore! Nuwe maniere

Hoe voel jy wanneer jy met iemand praat en hulle luister nie na jou nie? Dit is nie lekker nie. Die Here praat ook met ons en Hy is net so hartseer wanneer ons nie luister na wat Hy sê nie. Ons leer hierdie jaar uit die Bybel en uit die voorbeeld van Bybelkarakters hoe om na die Here te luister en dan nuut te gaan leef!

Week tema:

Gereed vir God se nuwe wêreld.

Wees gereed vir die nuwe wêreld van God (wederkoms) deur nou reeds te help bou daaraan.

Hierdie gelykenis vorm deel van ’n groep gelykenisse wat almal praat oor die (onverwagse, skielike) koms van die Here en die manier waarop Hy ingewag word:

  • Die vyeboom begin blare kry… dan is die somer naby (Matt 24:32-35) – Ons kan reeds aflei uit die tekens dat ons in die seisoen is van God se nuwe wêreld.

  • Die huiseienaar weet nie wanneer die dief kom nie (Matt 24:43-44) – Dit vra van ons om altyd voorbereid daarop te wees.

  • Die getroue en verstandige slaaf (Matt 24:45-47) – Ons moet daarom besig wees met God se nuwe wêreld.

  • Die slegte slaaf (Matt 24:48-51) – Dit is hy wat sy lewe volgens sy eie reëls leef en wat nie gereed is nie.

  • Die tien meisies (Matt 25:1-13).

  • Die muntstukke (Matt 25:14-30) – Gebruik wat jy het om besig te wees met God se nuwe wêreld.

  • Die laaste oordeel (Matt 25:31-45 – Herder, skape en bokke) – God se nuwe wêreld bring skeiding tussen hulle wat daarmee besig is en diegene wat hulle met hul eie sake bemoei.

Die eerste paar gelykenisse loop dus uit op die laaste een waar die skeiding bespreek word.

Die kern van die gelykenis van die tien meisies is die samevatting in vers 13: “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie”. Die gelykenis sê dus dat ons gereed moet wees vir God se nuwe wêreld.

Die gelykenis vra ’n kritiese ongerustheid by al die gelowiges: Is God se nuwe wêreld vir my belangrik genoeg dat ek daarmee besig is en myself daarvoor gereed maak? Wanneer die bruidegom sê: ‘Ek ken julle nie”, beteken dit hy stuur die onverstandige meisies weg met die boodskap: Ek wil julle nie ken nie, want julle het nie my wêreld belangrik genoeg geag om daarmee besig te wees nie.

Bybelgedeelte

Matteus 25:1-13.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  • Die gelykenis van die saaier.

  • Help om die begrip gereed te verduidelik.

  • Die tien meisies het uit vyf onverstandiges en vyf verstandiges bestaan.

  • Die krisis van die vyf onverstandige meisies.

  • Die bruidegom se reaksie.

Uitkoms

  • Waarskuwing: Pasop dat ander sake in my lewe nie belangriker word as God se nuwe wêreld nie.

  • Uitnodiging: Wees altyd gereed deur besig te wees met die dinge wat vir God se nuwe wêreld belangrik is.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Kom ons maak ons oë toe. Ons sien in ons verbeelding die vyf onverstandige meisies voor die toe deur. Hulle hoor die partytjie daarbinne. Bokant die geluid van die partytjie bly die stem van die bruidegom hang asof dit nooit weer wil weggaan nie: “Ek ken julle nie!”

Doen dinge

Nou hoe leef mense dan wat vir Jesus ken en vir wie Hy ken?

Elke huis het ’n manier waarop hulle leef. Die manier waarop mense in hulle huis leef, word gevorm deur die manier waarop hulle mekaar ken. Kinders doen sekere dinge omdat een van die ouers dit vir hulle gewys en geleer het. Gereed wees, is om te leef asof jou ouer enige oomblik kan opdaag. As ek begin lewe asof daardie ouer nie bestaan nie, mag dit net wees dat hy kan opdaag en so by my huis inloer en vir my sê: Ek ken nie die mens wat hier leef nie, want sy leef nie asof sy my ken nie. Hoe dink julle?

En as Jesus vandag by jou deur inloer?

Dink daaraan:

Gesels saam oor die verskil tussen slim en verstandig.

Wat beteken gereed wees vir Jesus se terugkom, vir ons wat glo dat Jesus klaar vir ons sonde betaal het?

Kom ons bid

Here, help my asseblief om gereed te wees wanneer Jesus terugkom.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Die verkeerde pad Matteus 4:17.

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Julle moet nou begin lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. (die Bybel vir almal)

Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: ” Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!”. (Nuwe lewende vertaling)

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koningryk van die hemel het naby gekom. (1983 vertaling)

Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “ Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!”. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Verbeel jou jy ry met jou fiets. Jy ry lekker, maar jy ry nie spesifiek iewers heen nie. Toe jy nog so lekker ry, kom daar ʼn groot kwaai hond van voor af. Vinnig dink jy, ek gaan omdraai en vinnig anderkant toe ry! Mateus 4:17 leer ons dat ons kan omdraai wanneer ons in die verkeerde rigting gaan.

Omdraai kans.

Bekeer beteken om om te draai, of om van gedagte te verander. Jy is besig om lelike dinge te doen. Jesus sê jy moet jou bekeer. Jy moet omdraai en op die regte pad kom. Jy moet jou gedagtes verander. Leef mooi en dink mooi gedagtes. Vra dan vir Jesus om jou te vergewe vir dit wat jy verkeerd gedoen het. Jesus het jou baie lief en sal nie kwaad wees vir jou omdat jy verkeerd gemaak het nie. Vra Jesus om jou te vergewe en Hy sal. Elke keer.

God weet.

Is daar iets in ou lewe waarvoor jy Jesus moet vra om jou te vergewe? Is daar iets waarvan jy moet wegdraai? Onthou God weet van alles wat jy doen. Die mooi en die lelik. Vra Jesus om jou te vergewe. Jesus sal jou vergewe en jou weer skoon en verlig laat voel.

Bid

Liewe Jesus, Ek bely my sonde. Ek is baie jammer dat ek gesondig het. Jesus, met jou hulp gaan ek wegdraai van wat ek verkeerd doen en vir Jesus volg. Dankie Jesus dat ek vergewe is. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 11 Junie, Baas-klaas of ouer-kind.

125 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page