top of page

Junior kategese geselsbriefie: 22 Oktober


Week tema:

Die Here hoor Simson roep.

Al ly ons soms lank as gevolg van ons besluite, hoor die Here ons noodkreet tot Hom en help Hy ons om tog ons lewensdoel te verwesenlik.

Hierdie aanbieding vervolg op die vorige een.

Simson is die Here se redder-geskenk aan sy ouers en Israel. Sy lewensdoel is om die Filistyne wat hulle bedreig, te straf en te oorwin. Die Gees van die Here lei hom en maak hom sterk. Ten spyte hiervan word hy deur ’n liefdesverhouding met Delila, ’n dogter uit die vyand se geledere, verlei en verraai en verloor hy sy krag. Sy word die simbool van verleiding (vgl. Rig 16:5), een wat haar minnaar vir geld verraai. Met haar aanhoudende geneul (net soos die vorige Filistynse vrou uit Timna), slaag sy daarin om Simson tot ’n val te bring. Iemand wat die verhaal hoor, sal dink: Simson was eintlik baie dom om haar te bly vertrou nadat sy hom die eerste drie keer wou verswak om aan die Filistyne oor te gee. Hierdie ‘domheid’ van Simson, en die taktiek van die verleier word ’n waarskuwing aan elke volgeling van die Here wat die verhaal lees. Simson verpersoonlik ook die volk se ‘domheid’ om telkens verlei te word tot afgodery. ’n Mens wil vra: Kon hy dan nie die ding sien kom nie? Is dit simbolies dat sy oë uitgesteek word?

Simson se verhaal word afgesluit met sy laaste daad toe duisende Filistyne omkom. In hierdie verhaal speel Simson se roep na die Here om aan hom te dink (16:28), ’n belangrike rol. Dit is in ooreenstemming met die struktuur van die Rigtersverhale: die volk roep na die Here vanuit die slegte posisie waarin hulle beland het nadat hulle tot afgodery verlei is. En as die Here die roep hoor, antwoord Hy (Ps. 106:43 ev.). In die Simsonverhaal is Israel gered, maar die held het gesterf. Hy kon egter tog sy lewensroeping voltooi omdat hy tot die Here geroep het, en die Here hom gehoor het.

Bybelgedeelte

Rigters 16.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Die sameswering.

  2. Simson word verlei en verneder.

  3. Die Here hoor Simson en help hom om sy lewensroeping te voltooi.

Uitkoms

  1. Besef: Die mense van die Here (ons) is blootgestel aan verleiding wat tot ons eie nadeel is.

  2. Bevryding: Die Here hoor as ons roep, al was ons ontrou. Hy bly getrou!

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dis eintlik ’n baie hartseer storie. Die enigste mooi stukkie wat eintlik alles verander, is dat daar geskryf staan dat Simson geroep het: “Here my God, dink tog aan my!” En die Here het hom gehoor.

Leef dinge

Omdat ons in heeltemal ander tye as Simson leef, kan ons nie meer alles soos in Simson se tyd doen nie. Ons maak nie meer mense so dood nie, want Jesus het gekom en ons geleer om ons vyande lief te hê. Ons het ook nie meer sulke mense met ongesnyde hare wat nie iets van die wingerdstok eet of drink as spesiale mense nie. Die Here maak ons almal wat in Jesus glo spesiaal, want Hy noem ons nou kinders van God.

Maar daar is tog ’n paar dinge wat dieselfde is.

1. Ons elkeen wat God se kind is, het iets spesiaals wat ons op aarde moet doen.

2. Al maak ons foute soos Simson, is dit wonderlik om te weet dat die Here vergewe en ons nogtans hoor as ons tot Hom roep.

3. Omkoopgeld en mooi meisies (of ouens) kan nog steeds ’n probleem wees wat in die pad kom staan sodat ek nie kan doen wat ek op aarde moet doen nie! Ek kan kies wie my vriende, my lewensmaat en my manier van lewe moet wees.

Gesels dinge

Gesels saam hieroor:

  • Hoe maak ek vriende? Kies ek hulle, of kies hulle my?

  • Hoe kom ek weg uit ’n groep wanneer hulle verkeerde dinge doen?

  • Watter verkeerde dinge doen die jongmense van my ouderdom?

  • Moet ons mekaar teen sekere vriendskappe waarsku? Hoekom?

Kom ons bid

Here, gee my asseblief die wysheid om die regte vriende te kies en om ʼn goeie vriend vir my vriende te wees.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was. Ek sal probeer om elke week ʼn versie saam met die geselsbriefie te stuur.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Wat is my doel? Lukas 10:27

  • Die skrifgeleerde antwoord toe: “Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart, met jou hele lewe, met al jou krag, en met jou hele verstand. Jy moet ook vir jou naaste lief wees soos jy lief is vir jouself.”. (die Bybel vir almal)

  • Die man het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.” En: “Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.” (Nuwe lewende vertaling)

  • Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (1983 vertaling)

  • Die wetskenner antwoord toe: ”Die Wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Wat is ʼn doel? Dit is die rede vir iets se bestaan. Gesels oor die doel van die volgende voorwerpe:

  • Potlood

  • Kar

  • Stoel

  • Klavier

  • Toebroodjie

Liefdevolle Here

Het jy geweet dat jy ʼn doel het? Daar is ʼn rede hoekom jy bestaan. In Lukas 10:27 leer ons dat Jesus sê dat die rede vir ons bestaan is dat ons God moet lief hê met alles in ons. Ons moet God liefhê met ons wil, emosies, krag en gedagtes. Dit beteken met elke deeltjie van ons. Mens doen dit deur bewus te wees van God in alles wat jy doen en dink.

Wees lief vir ander mense

Jesus sê dat wanneer ek God lief het met my hele hart, siel krag en verstand, sal ek leer om my naaste ook lief te hê soos myself. Dit beteken dat ek sal omgee vir al die mense om my.

Bid

Liewe Jesus, ek wil jou liefhê met my hele hart, my hele siel, met al my krag en my hele verstand. Jesus, help my om net so lief te wees vir ander mense as wat ek vir myself is. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 29 Oktober, Rut maak ʼn keuse.

34 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page