top of page

Junior kategese geselsbriefie: 21 Mei


Sondag na die oggenddiens het ons kuierkombuis.

Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in die veertig dae van Opstandingstyd.

Jaar tema:

Ene ore! Nuwe maniere

Hoe voel jy wanneer jy met iemand praat en hulle luister nie na jou nie? Dit is nie lekker nie. Die Here praat ook met ons en Hy is net so hartseer wanneer ons nie luister na wat Hy sê nie. Ons leer hierdie jaar uit die Bybel en uit die voorbeeld van Bybelkarakters hoe om na die Here te luister en dan nuut te gaan leef!

Week tema:

Die saaier – hoor én doen.

Elkeen van ons het die geleentheid om te besluit wat ons met Jesus – God se saad in ons lewe – gaan doen.

Jesus vertel gelykenisse om iets van die koninkryk te verduidelik. ’n Gelykenis onderstreep gewoonlik ’n groot gedagte.

Jesus bring God se boodskap na die mense. Hy bring die boodskap met woorde, maar Hyself is ook die boodskap.

Die ingesteldheid van mense teenoor Jesus as die boodskap van God – God se saad, is dus ter sake: Sommige verwerp Jesus, ander vind hom interessant, ander is te besig om rêrig aandag te gee en ander aanvaar Hom, aanbid Hom en volg Hom. Vir sommige verander die kontak met Jesus hulle lewens ten goede, ander verwerp Hom en dra geen vrug in die koninkryk nie.

Enersyds het ’n mens dus te doen met verskillende soorte mense wat op verskillende maniere op die boodskap reageer. Andersyds is dit ook moontlik dat die verskillende reaksies op Jesus en sy boodskap binne een mens afspeel. Daarom moet ek voortdurend oplet na my eie ingesteldheid teenoor Jesus se woorde. Hoe luister ek daarna en wat gebeur met Jesus se woorde in my lewe.

Bybelgedeelte

Matteus 13:1 – 23.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Die mense wonder hoekom Jesus gelykenisse vertel.

  2. Dramatiese uitbeelding van die saad wat gesaai word.

  3. Hoe om die gelykenis te verstaan.

Uitkoms

Uitnodiging: Kom in ontvanklikheid na Jesus toe, kyk en hoor wie Hy is en wat God se boodskap vir mense is en gaan maak Hom deel van jou lewe.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Kyk saam na die kort video van Max7:

Doen dinge

Wanneer Jesus gelykenisse vertel, is dit soos wanneer ’n mens voor ’n spieël staan. Jy sien iets van jouself in die spieël. En wat maak ek as ek iets sien waarvan ek nie hou nie? Ek probeer dit verander. Ek kam my hare, of trek skoon klere aan, of sit net weer ’n slag my mooi glimlag op.

Vandag laat Jesus se gelykenis ons ook weer in die spieël kyk. Wat maak ek met Jesus? Wat maak ek met God se boodskap?

Kom ons bid

Here help my om goeie grond te wees.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was. Ek sal probeer om elke week ʼn versie saam met die geselsbriefie te stuur.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Versoekings: 1 Korintiërs 10:13

  • Daar gebeur dinge wat vir julle toets, en wat vir julle wil laat ophou om God te dien. Maar julle kan hierdie dinge oorwin. God sal julle altyd help. Hy sal sorg dat hierdie dinge nie sterker is as julle geloof nie. Wanneer hierdie dinge julle wil laat ophou glo, dan sal God julle help om sterk te wees en aan te hou glo. (die Bybel vir almal)

  • Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ʼn uitweg sorg sodat julle dit kan verduur. (Nuwe lewende vertaling)

  • Geen versoeking wat meer is as wat ʼn mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1983 vertaling)

  • Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Elsje en Allan was besig om te speel toe hulle die heerlikste reuk uit die kombuis ruik. Mamma was besig om koekies te bak en die eerste baksel het nou-net uit die oond gekom. Elsje weet dat Mamma gesê het dat hulle nie van die koekies mag kry voor hulle geëet het nie. Mamma sal mos nie weet as hulle net enetjie eet nie. Elsje sê vir Allan dat hy een van die koekies moet vat. Daar is mos baie en Mamma sal nooit weet nie. Wat is meer belangrik: om ʼn koekie te eet of om die regte ding te doen? Wat sou jy gedoen het?

ʼn Versoeking

Om versoek te word beteken om regtig iets te wil doen al weet jy dit is verkeerd. Miskien is jy lus om iemand te stamp of te klap (soos boetie of sussie) as jy kwaad is. Of om te jok sodat jy nie in die moeilikheid kom nie.

ʼn Uitweg

In hierdie week se versie leer God ons nie net dat ons almal versoek word of baie maniere nie, maar Hy maak ook ʼn belofte. God sê dat wanneer ons versoek word, sal Hy vir ons ʼn uitweg gee.

Soms wanneer ons versoek word, moet ons eenvoudig wegloop van die versoeking.

Wat is jou grootste versoeking? Watter uitweg dink jy gee God jou?

Bid

Liewe Vader, ek is swak wanneer ek versoek word. Help my asseblief om te onthou hoe ek verby die versoeking kan kom. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 28 Mei, Hoe lyk jou leefstyl. Kuierkombuis na die Gesinsdiens.

31 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page