top of page

Junior kategese geselsbriefie: 13 Augustus


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Koningkrykstyd.

Week tema:

Leiers wissel – God bly.

Wanneer ons op die drumpel staan van nuwe dinge voor ons, is dit die Here sélf wat ons lei en begelei.

Die verhaal speel af by die drumpel van ’n nuwe begin net voordat die volk Israel, na so baie tyd in die woestyn, die beloofde land gaan intrek. Dit speel af aan die einde van Moses se verhaal as leier van die volk, net voordat hy sterf en Josua oorneem om die volk oor die Jordaan-rivier te lei. Dit is ’n sentrale verhaal in die geskiedenis van Israel, asook God se reddingsgeskiedenis.

Bybelgedeelte

Deuteronomium 31 – 34

Josua 1.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  • Die Here roep die ou en nuwe leiers saam om bevele aan hulle te gee.

  • Die Here gee sy laaste opdrag aan Moses.

  • Moses sterf nadat hy die beloofde land gesien het.

  • Josua word opgerig as die nuwe leier om die volk uiteindelik in die beloofde land in te lei.

Uitkoms

As ons op die drumpel van iets staan, lei die Here ons sélf oor die drumpel. Weet ook dat die Here leiers roep en lei om sy wil uit te leef. Aanvaar die Here se leiding vir myself en ook deur leiers wat Hy voorsien.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Dink aan Moses en hoe die Here hom deur die Rooi See en deur die woestyn gelei het. Dink ook aan hoe die Here nou beloof het om ook by Josua te wees. Is die Here ook by my? Hoe is die Here by my? Hoe kan ek weet Hy is by ons?

Dink aan Jesus en dat hy vir sy dissipels gesê het dat, al gaan Hy weg, Hy tog vir altyd by hulle en by ons sal wees (Matt 28:20). Is dit nie wonderlik om te weet nie? Dit is waarom die Heilige Gees gekom het. Die Heilige Gees kan oral wees, gelyktydig! Hy is by my! Waar die Heilige Gees is, daar is Jesus!

Leef dinge

As ek daaraan dink dat die Here by my is, sal ek heeltemal anders leef. Wat jy ons anders doen as jy weet die Here is by jou? Hoe sal jy leef as jy soos Josua die Here se plan volg?

Kom ons leef soos mense wat op die Here vertrou om ons oor elke drumpel te lei!

Doen dinge

Is daar dalk ’n belangrike drumpel wat vir julle voorlê? Is julle bang daarvoor?

Bid saam daaroor.

Kom ons bid

Bid dat die Here julle sal lei, en dat Hy julle sal help om Hom te volg waar Hy julle stuur.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Glo jy? Johannes 11:25.

Jesus het vir haar gesê: “Ek laat mense lewe, Ek laat hulle vir altyd lewe. Mense wat in my glo en sterf, sal lewe.” (die Bybel vir almal)

Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.” (Nuwe lewende vertaling)

Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;” (1983 vertaling)

Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Daar was op ʼn keer ʼn man wat regtig geleef het. Die man het meer krag as wat jy ooit kan droom. Hierdie is ʼn man in wie jy kan glo. Wie is hierdie man? Dit is Jesus!

Leef vir ewig

Hierdie week se versie kom uit Jesus se eie mond. Jesus praat met Marta, Lazarus se suster, net na hy dood is. Jesus sê vir Marta dat daar lewe is deur Hom. Jesus het die krag om die dood te oorwin. Jesus sê dat die wat in Hom glo, nie dood sal gaan nie. Ons sal eendag hierdie aardse lywe van ons verlaat, maar Jesus belowe dat ons dan saam met Hom, vir ewig, in die hemel sal leef.

Glo in Jesus

Jesus vra vir Marta ʼn baie belangrike vraag: “glo jy dit?” Sy antwoord: “Ja!”. Het jy al, soos Marta, vir Jesus vertel dat jy in Hom glo? Het jy al vir Jesus vertel dat jy glo dat Hy die lewende God is en dat Hy die redder van die hele wêreld is? Sal jy dit doen?

Bid

Liewe Jesus, ek glo in Jesus en ek wil dankie sê dat Jesus die opstanding en die lewe is. Dankie dat ons almal eendag, vir ewig, by Jesus gaan wees. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 20 Augustus, ʼn teken van genade.

37 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page