top of page

Junior kategese geselsbriefie: 27 Augustus


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Koningkrykstyd.

Week tema:

Die Here doen magtige dade.

Die verhaal gaan voort met die Israelitiese volk wat die Jordaan oorsteek en besig is om die beloofde land in te gaan. Jerigo was een van die oudste en sterkste stede van daardie tyd, en was ’n vreesaanjaende stad om teen te veg.

Bybelgedeelte

Josua 6.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  • Die Here neem leiding en beveel Josua wat om te doen.

  • Josua dra die Here se plan aan die priesters en manskappe oor en hulle reageer dadelik.

  • Die mure val en alles word uitgedelg.

  • Ragab en haar familie word gespaar/gered.

Uitkoms

Toewyding: Om voor die Here te buig en te doen wat Hy sê, laat jou verwonderd staan oor sy mag.

Aanbid die Here ons God as enigste God.

Wete: In die slegste omstandighede (soos oorlog) werk die Here steeds as Redder.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Dink nou ’n bietjie aan die Israeliete. Dink jy dalk dat hulle net die stad wou inneem? Wou hulle regtig so lank wag voordat hulle kon doen wat hulle gekom het om te doen?

Wag ons ook vir die Here se tyd? Wag ons vir die Here om te werk? Vertrou ons die Here genoeg daarvoor?

Leef dinge

As ons aan hierdie verhaal dink, is daar sekere woorde wat in ons gedagtes opkom:

Muur, sterk, wag, luister, gehoorsaam, genade, vertrou. Miskien is daar iets soos ’n sterk en groot muur voor jou waarvoor jy nie kans sien nie. Bid nou daarvoor en vra dat die Here jou daarmee sal help. Wag op Hom. Vertrou Hom. Hy kan jou verras en mure laat omval – iets waarvan Israel voor die tyd nie eers van sou droom nie! So is God se verrassings!

Gesels dinge

Gesels oor hoe Ragab en haar familie gered is. Gesels oor mense wat vandag dalk baie benoud en bang is en om genade smeek. Gesels oor mense naby aan julle én aan mense in ver lande.

Wonder goed

Lees die volgende sewe sinne stadig en wonder daaroor:

1. Ek wonder waarom die Here nie wou gehad het dat die Israeliete sélf die stad aanval nie.

2. Ek wonder waarom dit nodig was om so lank om die stad te stap? Waarom het die mure nie net onmiddellik omgeval nie?

3. Ek wonder watter boodskap die mense binne die stad gekry het, toe die Israeliete net met trompetgeskal en stilte om die stad gestap het?

4. Ek wonder hoe dit voel as die gevaar rondom jou is en jy nie weet hoe om daaruit te kom nie. Wat sou ek doen?

5. Ek wonder of ek myself ook binne gevaarlike mure ingehok het?

6. Waarom is Ragab gered?

7. Ek weet Jesus is my redder!

Kom ons bid

Dink dan aan mense wat vandag baie benoud en bang is en om genade smeek. Bid saam vir hulle.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Christus in my. Galasiërs 2:20.

Dit is nie ék wat lewe nie, dit is Christus wat in my lewe. Ek lewe nou só: Ek glo in die Seun van God, die Seun wat lief is vir my en wat gesterf het sodat ek kan lewe. (die Bybel vir almal)

Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur die geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. (Nuwe lewende vertaling)

en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. (1983 vertaling)

Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Verbeel jou ʼn koning, met ʼn mooi kroon, wat op sy troon sit. Die koning is baas. Die mense in sy koninkryk vertrou hom.

Die troon van jou hart.

Het jy geweet dat jy ʼn troon in jou hartjie het? Dit is nie ʼn regte troon nie, maar dit is ʼn plekkie in jou hart waar Jesus kan sit. Jy kan natuurlik self op die troon sit, maar dan is daar nie plek vir Jesus nie. As jy self op die troon sit, dink jy net aan jouself, jy hou net jouself gelukkig en jy vergeet van God.

Wanneer jy Jesus ontmoet, gebeur ʼn wonderlike ding. God verander jou hartjie en Hy gee vir jou liefde in jou hart. Dan wil jy dinge doen wat God gelukkig maak. Die verskil is so groot dat mens kan sê dat die mens wie jy was, gesterf het, saam met Jesus aan die kruis, en dat daar nou ʼn nuwe jy is! Hierdie nuwe jy is die nuwe lewe wat jy saam met Jesus deel. Jesus leef in jou!

Dink net: Jesus leef in jou!

Wie is op die troon?

As jy doen wat jy wil selfs al weet jy dit is verkeerd, sit jy op die troon. Wanneer jy nie bid nie en nie vir God vra wat Hy dink nie, sit jy op die troon. Wanneer dit gebeur, moet jy afklim van die troon en God nooi om op die troon te kom sit! Hoe doen ek dit? Deur onthou om te bid en te doen wat God ons leer reg is. Gee God volle beheer oor jou lewe.

Bid

Liewe Jesus, ek weet die ou ek is weg en dood, want Jesus leef in my hartjie. Jesus help my dat ek nie weer op die troon in my hartjie wil klim nie. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Sondag 3 September, Lentefees. Ons gaan eers almal na die "groot” kerk en dan gaan ons saam met die beleidenisklas boeresport doen. Trek gemaklik aan.

44 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page