top of page

Junior kategese geselsbriefie: 15 Oktober


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Koningkrykstyd.

Week tema:

Die Gees van die Here lei vir Simson.

Die Here roep mense (ook vir ons) vir spesiale take en lei hulle deur die ‘ups and downs’ van die lewe.

Vergelyk die vorige aanbieding oor die herhalende patroon in Rigters: Verkeerd doen, oorgegee aan vyande, roep om hulp, ’n redder gestuur. Die verhaal van Simson begin met dié patroon. Simson se geboorteverhaal in Rigters 13 vertel dat hy iemand besonders is. Dele van sy verhaal laat jou dink aan die geboortes van Isak, Samuel en Johannes die Doper. Hy word van sy geboorte af aan God gewy (vgl. Num 6:1-21), en word deur die Gees van die Here gelei (Rig 13:25). Simson is enersyds die kragman wat die Filistyne, die vyand van Israel, keer op keer verslaan tot met die laaste groot daad waarmee hy meer Filistyne doodmaak as in sy lewe (sien volgende aanbieding). Andersyds trou hy twee keer met Filistynse meisies en gee hy toe aan die eise van die meisie van Timna (die raaisel se antwoord) en Delila (die geheim van sy lang hare). Later in die geskiedenis as Israel hierdie verhaal lees, kan hulle aan hulleself as ’n volk dink: Die Here het hulle as sy spesiale volk uit Egipte gelei, maar hulle kon dit net nie regkry om altyd op die Here se regte pad te bly nie. Dit is eintlik ook ons eie storie: Die Here roep ons en maak ons spesiaal, maar ons kry dit net nie reg om heeltyd as sy kinders te lewe nie. In ons lewens tussen die ander mense en in die verhoudings wat ons aangaan, verloor ons dikwels kop.

In die tyd van die Rigtersboek het die mense nie mooi geweet wat reg of verkeerd is nie. Hulle het gedink as hulle eendag ’n koning kry, sal die koning hulle help besluit oor reg en verkeerd (vgl. Rig 21:25). As Christene HET ons ’n Koning wat vir ons wys wat reg en verkeerd is, en wat sy Heilige Gees gestuur het om ons te help om in die lewe die regte keuses te maak. En tog maak ons nog baie verkeerde keuses. Gelukkig is die Here se liefde en genade groter as ons verkeerde keuses. Hy vergewe ons uit genade, en lei ons verder in sy groot liefde.

Bybelgedeelte

Rigters 13 – 15.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Simson se geboorte word aangekondig. Hy is spesiaal

  2. Die Gees van die Here begin Simson lei.

  3. Die vrou van Timna.

  4. Simson oorwin groepe Filistyne, maar word ook geteken as iemand wat van die Here afhanklik bly (dors).

Uitkoms

  1. Dink na oor ons andersheid in die wêreld en die feit dat die Here deur sy Gees by ons is om ons te lei en krag te gee.

  2. Erken dat die lewe ingewikkeld is – soms is ons sterk, soms swak; soms weet ons wat om te doen, soms vind ons uit ons het die verkeerde ding gedoen. Sê dankie vir almal wat ons help om regte dinge te doen.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Kom ons dink ’n bietjie met toe oë. Daar is een sin wat op ’n hele paar plekke in Simson se lewe voorkom. Dit is die woorde: Maar die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Ek sê dit weer: Die Gees van die Here het hom sterk gemaak.

Leef dinge

Daar kom dae in ons lewens wat ons nie weet of ons die regte ding gedoen het nie. Soms is ons moedeloos, of voel ons dors soos ou Simson. Soms voel ons net swak of ons nie krag het nie. Soms het ons verkeerde dinge gedoen. Een ding kan ons egter altyd onthou: God se Gees is by ons en Hy is nie swak of moedeloos of besig met verkeerde goed nie. Hy is die Heilige Gees en Hy het in ons kom woon om ons elke dag te help. Dit is darem iets wat ons baie besondere mense maak: God se Gees woon in ons.

Gesels dinge

Praat by die huis saam hieroor:

 *Watter soort mense dink julle moet my man of vrou eendag wees?

 *Waar en hoe gaan ek so iemand ontmoet?

 *Waarvoor moet ek versigtig wees?

Ons leef in die tyd nadat Jesus gekom het. Die Heilige Gees woon nou in ons.

 *Wat is anders in ons tyd as toe Simson geleef het?

 *Wat is nog dieselfde?

In Simson se tyd was baie dinge anders as vandag. Wat was anders? Wat is nog dieselfde?

Daar is verskillende maniere om sterk te wees. Simson was sterk met spiere en krag om te kon baklei. Hoe maak die Heilige Gees ons sterk om as Christene te leef? Noem voorbeelde.

Kom ons bid

Here, gee my asseblief die krag om…

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was. Ek sal probeer om elke week ʼn versie saam met die geselsbriefie te stuur.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Hoe word ek vergewe? 1 Johannes 1:9

  • Maar as ons bely dat ons sonde gedoen het, dan kan ons seker wees dat God sal doen wat Hy belowe het en dat Hy regverdig is. (die Bybel vir almal)

  • As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is. (Nuwe lewende vertaling)

  • Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1983 vertaling)

  • As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. (Die boodskap)

  • Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Hierdie week se versie konsentreer op twee goed: beleidenis en vergifnis.

Belydenis beteken om vir God te vertel wat ons verkeerd gedoen het. Ja, God weet al voor jy hom vertel dat jy iets verkeerds gedoen het, maar God wil dit van jou hoor. God wil hoor dat ons jammer is. Om jou sondes aan God te bely is om saam te stem met God oor jou sondes. Dit is anders as om verskonings te gee oor hoekom jy gesondig het. Belydenis klink so: “Here ek het gesondig.”

Vergifnis is een van die mooiste woorde in die Bybel. Vergifnis is wat Jesus vir ons op die kruis gedoen het, Hy het ons sondes weggevat. Dit is asof ons sondes nooit gebeur het nie. God het ontslae geraak van al ons sondes!

Om die waarheid te sê, hier is vier goed wat God met ons sondes doen:

  1. Hy was ons sondes so wit soos sneeu is. Jesaja 1:18

  2. Hy vergeet heeltemal van ons sondes. Jesaja 43:25

  3. Hy verwyder ons so vêr van ons sondes soos wat die ooste van die wese is. Psalm 103:12

  4. Hy gooi ons sondes in die diepste deel van die oseaan. Miga 7:19

Vir God om hierdie dinge vir ons te doen, hoef jy net te bely! Vertel vir God wat jy verkeerd gedoen het.

Bid

Liewe Jesus, vandag wil ek vertel wat ek verkeerd gedoen het… Dankie Here dat ek vergewe word in Jesus se naam, amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 22 Oktober, die Here hoor Simson roep.

58 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page