top of page

Junior kategese geselsbriefie 28 Januarie


Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Week tema:

So iets het ons nog nooit gesien nie.

Jesus is God wat ʼn sondige verlamde man help en ons met hierdie Goeie Nuus na ander mense toe stuur. Só sal baie mense God prys.

Agtergrond

Drie aspekte word hier beklemtoon:

1. Die verhaal is deel van die lydensgeskiedenis.

2. Jesus is God.

3. Mense help mekaar.

Hierdie gedeelte is binne die groter geheel van Markus 2:1 – 3:6 geplaas. Die konflik tussen Jesus en die godsdiensleiers staan hier sentraal. Wanneer Jesus aan ʼn mens vergifnis van sonde “skenk”, begin die teenstand teen Jesus. Dit is dan ook deel van die lydensgeskiedenis van Jesus.

Jesus kan doen wat God doen – Hy kan sonde vergewe en mense gesond maak. Wanneer Jesus die man se sonde vergewe en hom gesond maak, word God geprys. ʼn Mens sou kon vra: Waar sien ons die “vinger van God” (die werk van God, die teenwoordigheid van God)? Die antwoord: God is teenwoordig waar Jesus is.

God is egter ook teenwoordig waar die liggaam van Jesus (die kerk) is. Wanneer die liggaam van Jesus sy Leier volg, sal hulle wees waar God stukkende en sondige mense (noodlydendes) heelmaak en aan hulle verlossing skenk.

Die vier mans wat hulle verlamde vriend tot by Jesus gebring het, het gewys hoe mense wat al hulle hoop op Jesus plaas, saamstaan. Daardeur word hulle ʼn voorbeeld van hoopdraers wat saamstaan en die noodsituasie van “een van hulle” voor Jesus oopmaak. Hulle weet iets van hierdie geheim: Waar Jesus is, is God.

Bybelgedeelte

Markus 2: 1 – 12.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Jesus het ʼn boodskap wat mense nadertrek.

  2. Jesus sien mense se geloof en begin met die diepste “genesing” – die vergewing van sonde. Net God kan dit doen! Dit bring teenstand (lyding).

  3. Jesus wys Hy het dieselfde mag as God; daarom prys mense vir God.

Uitkoms

Insig: Waar Jesus is, is God self besig.

Respons: Ons kan in die skoene van die verlamde man, die godsdiensleiers of die gelowige vriende staan wanneer ons hierdie verhaal lees. As gelowige vriende kry ons die moed om mekaar en ons vriende – alle mense in nood – na Jesus of God toe te bring.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink ’n bietjie aan ʼn keer toe jy hartseer was. Hoekom was jy hartseer? Hoe het jy gevoel? Wat het gebeur dat jy nie nou meer so hartseer is soos wat jy toe was nie? As jy mooi dink, sal jy dalk besef dat dit die Here was wat jou gehelp het om nie meer hartseer te wees nie. Onthou om vir Hom dankie te sê dat hy jou hartseer in blydskap verander het.

Leef dinge

Dink aan jou maats. Is daar iemand wat, soos die verlamde man, hulp nodig het? Dink saam hoe julle hierdie persoon kan help.

Help mekaar om te wys wanneer julle bly is. Wat het vandag (of onlangs) gebeur wat jou bly gemaak het? Vertel vir mekaar hoe julle God se werk in julle lewe sien.

Gesels dinge

Laat jou kind die verhaal, wat hy/sy in die klassie gehoor het, vir jou vertel met die kartonstroke wat hy/sy in die klassie gekry het.

Kom ons bid

Is daar iets wat maak dat jy soos die verlamde man voel? Vertel vir mekaar daarvan. Wie kan jou help? Bid saam hieroor.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Pragtige mense. 1 Samuel 16:7

  • “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as mense nie. Mense kyk hoe iemand lyk, maar die Here kyk wat in iemand se hart is.” (die Bybel vir almal)

  • “Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na die binnekant.” (Nuwe lewende vertaling)

  • “Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1983 vertaling)

  • “Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ʼn mens se hart.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Gerhard is die coolste ou in die skool. Hy dra die beste klere met die regte name. Sy hare is ʼn droom. Baie kinders is jaloers op hom. Hy is lank, atleties en baie aantreklik. Gerhard se pa is baie ryk. Maar Gerhard het ʼn donker kant. Gerhard is lelik met mense. Hy knou die ander kinders af, Hy boelie die kleiner kinders en hy is sommer net mislik. Gerhard is nie ʼn plesier nie.

Johan is nie juis ʼn mooi ou nie. Sy klere is nie wat wonders nie. Sy hare? Wel, hy het hare, maar dit is nie juis hare wat mens sal begeer nie… En Johan het ʼn bril. So ʼn stukkende een. Maar Johan is die beste vriend wat jy kan kry. Johan help almal en niks is vir hom teveel nie. Johan is altyd vriendelik. Mens kan sien dat Johan lief is vir Jesus.

Sal jy vir Gerhard of vir Johan kies as ʼn vriend? Hoekom?

Binneste Buite

1 Samuel 16:7 leer vir ons een van die belangrikste lesse van die Bybel. Ons leer dat dit wat binne in ons is, baie belangriker is as hoe ons buitekant lyk.

Die wêreld is vol mense wat jou treurig kan laat voel oor hoe jy lyk. Jy kan dink jy is te kort, te lank, te maar, te vet, te dit of te dat. As ʼn mens so begin dink, gaan jy jouself naderhand begin glo. Dan voel jy sleg oor wie God jou gemaak het. Maar God sê: “moet nie treurig voel oor hoe Ek jou gemaak het nie! Konsentreer op wie jy aan die binnekant is!”

God kyk na jou hart

Wie jy aan die binnekant is, noem ons jou karakter. Hoe ʼn mens dink jy is jy? Is jy lief vir ander mense? Doen jy die regte ding al kyk niemand vir jou nie? God sê dat dit die dinge is wat jou pragtig mooi maak! Mense kyk hoe jy lyk, maar God kyk hoe jou hart lyk!

Lees 1 Petrus 3: 3 – 4. Fokus op die mens wat jy wil wees. Dit is vir God kosbaar.

Bid

Liewe Jesus, ek weet dat God my gemaak het net soos Hy my wou gehad het. Jesus, help my asseblief hierdie week om te fokus op my hart en op die persoon wat ek wil wees en dat ek nie sal fokus op hoe ek lyk nie. Dankie Here. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

28 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page