top of page

Junior kategese geselsbriefie 11 Februarie

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Markus 2: 13 – 17.

Week tema:

Jesus eet saam met sondaars.

Jesus, ons “Onderwyser” of Leermeester, laat ons saam drome droom om siek (sondige) mense by die Dokter uit te bring; om hulle in te trek tot in die binnekring waar ons vrolik saam om ʼn tafel feesvier.

Agtergrond

Daar is ʼn groot waarskynlikheid dat Levi en Matteus dieselfde mens was. Dit is hierdie Matteus wat volgens oorlewering die skrywer van die Matteusevangelie was.

Die beeld wat Jesus gebruik deur Homself met ʼn dokter te vergelyk, verduidelik sy roeping op aarde as Heelmaker (Heiland). In hierdie Bybelgedeelte is dit ook die eerste keer dat Markus na Jesus en sy dissipels verwys. Dit is interessant dat die skrifgeleerdes en Fariseërs nie gevra het hoekom die dissipels saam met die tollenaars en ander geëet het nie. Hulle het die Leier geteiken. Markus teken vir Jesus en sy dissipels saam om die tafel – op dieselfde vlak, binne dieselfde groep. In vers 14 word Levi genooi om Jesus te volg. In vers 17 sê Jesus Hy het gekom om mense te “roep”. Jesus en sy dissipels trek dié wat buite is tot in die binnekring. Dít is Jesus roeping en Hy is nie skaam daaroor nie. Hy vier saam met hulle fees.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Levi word geroep en hy volg dadelik.

  2. Hulle eet saam.

  3. Jesus doen waarvoor Hy gekom het.

Uitkoms

1. Dink en beleef:

  • Hoe voel dit om in die skoene van ʼn tollenaar te staan?

  • Hoe voel dit om in die skoene van ʼn skrifgeleerde of Fariseër te staan?

  • Hoe voel dit om in die skoene van ʼn dissipel (ʼn leerder van Jesus) te staan?

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Wat het die dissipels gedink toe hulle sien wat Jesus doen? Sien in jou verbeelding hoe hulle saam met Jesus en die tollenaars en ander sondaars aan tafel sit. Miskien was hulle ongemaklik. Dalk het hulle gedink: As Jesus dit doen, kan ons dit ook doen.

Dink nou in jou gedagtes oor die situasies hieronder:

1. Ek is ʼn tollenaar. Wat dink die mense van my? Hoe laat dit my voel? Hoe tree Jesus teenoor my op? Hoe laat dit my voel?

2. Ek is ʼn Fariseër of skrifgeleerde. Jesus doen iets wat volgens my heeltemal verkeerd is. Wat dink ek? Wat sê ek?

3. Ek is een van Jesus se dissipels. Ek sien wat Jesus doen. Ek gaan saam met Hom. Sal ek dit doen as ek alleen is? (Onthou, Jesus is altyd by jou deur die Heilige Gees.)

Leef dinge

Ons is gelowiges wat ons Leermeester volg. Om soos Jesus te wees vra moed. Daar is baie mense wat ons hulp nodig het, soos mense wat siek is. Ons ken die Een wat almal kan help. Ons het goeie nuus om te vertel!

Gesels dinge

1. Lees weer Markus 2:13-17 saam. Lees dieselfde verhaal in Matteus 9:9-13. Watter verskille kry julle in die twee weergawes van hierdie verhaal?

2. Praat saam oor wat barmhartigheid beteken.

3. Hoe kan julle barmhartigheid aan iemand gaan bewys?

Kom ons bid

Is daar iets wat maak dat jy soos die verlamde man voel? Vertel vir mekaar daarvan. Wie kan jou help? Bid saam hieroor.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Vind jou pad. Lukas 22:42

  • “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te dink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” (die Bybel vir almal)

  • “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geld.” (Nuwe lewende vertaling)

  • “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied.” (1983 vertaling)

  • “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ʼn ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U planne! Ek val daarby in.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Het jy al ooit deur ʼn doolhof (maze) gestap? Wel jy al ʼn doolhof op papier gedoen! Dit is mos een van daardie prentjies waar jy by die een kant begin en dan moet jy die paadjie na die einde kry. Mens teken dan jou roete met ʼn potlood en as jy ʼn foutjie maak, gaan jy terug op jou spoor en probeer ʼn ander paadjie tot jy by die einde kom. Die lewe is partykeer soos ʼn doolhof. God het die perfekte paadjie vir jou om te volg, jy moet net luister en kyk waar Hy jou lei.

ʼn Treurige nag.

Die aand voor Hy sou sterf, was Jesus in die tuin, besig om te bid. Jesus het bang gevoel. Jesus het geweet dat Hy gespot sou word, dat hulle hom gaan slaan en dat Hy gaan sterf aan die kruis. Al was Hy onskuldig. Jesus het dit baie swaar gevind.

Bid vir wat God wil

Jesus leer vir ons ʼn baie belangrike ding toe Hy bid. Jesus vra nie vir God dat hierdie goed nie met Hom moet gebeur nie, nee, Hy bid dat as dit God se wil is, dan moet dit gebeur. Ons moet ook so bid.

Bid

Here, dankie dat Jesus vir ons kom wys het hoe om God se wil met my te vra. Ek wil gaan waar Jesus my wil hê en ek wil doen wat Jesus wil hê ek moet doen. Jesus help my om te weet watter kant toe ek moet gaan. Dankie Here. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page