top of page

Junior kategese geselsbriefie 18 Februarie


Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Markus 4: 35 – 41.

Week tema:

Wie kan Hy tog wees.

Jesus skep vrede wanneer allerhande dinge (soos storms) mense bang maak.

Agtergrond

Dié wonderverhaal funksioneer hier effens anders as in Matteus se weergawe. By Matteus word die vraag oor die dissipels se geloof vóór die wonder gevra. By Markus kom dit eers ná die tyd. By Markus lei dit dan tot die slotvraag in die perikoop: Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?

Net hierna volg die genesing van die besetene wat eindig met die woorde: “Almal was verbaas daaroor” (5:20). Dan volg die genesing van Jaïrus se dogtertjie wat eindig met hierdie opmerking: “Die mense was stom van verbasing” (5:42). Dit alles loop uit op die veragting wat Jesus in Nasaret beleef het, toe Hý verbaas was oor die mense se ongeloof (Mark 6:6).

Om verbaas te wees dui daarop dat jy iets nie verwag het nie. Mense het gesien hierdie Jesus doen ongewone dinge, dinge wat hulle nie verwag het nie. Jesus, weer, was verbaas dat sy eie mense van al hierdie dinge gehoor én dit gesien het, maar tog nie geglo het nie.

Hierdie verhaal het twee fokuspunte: Jesus se buitengewone optrede, en die dissipels se geloof. Jesus se reddingsdaad neem hulle verby hulle normale verklarings oor wie Jesus is na die erkenning: Kyk net wat doen Hy! Vir mense wie se geloof in die chaos van aardse onrus kwyn, is die boodskap: Hou moed. Fokus op Jesus. Hy is by ons.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Jesus stuur in ʼn ander rigting.

  2. Chaos! Daar is ʼn storm, en tog lê Jesus rustig en slaap.

  3. Jesus doen wat God doen en laat sy dissipels met verbasing staan.

Uitkoms

Erkenning: Jesus is bonatuurlik… Hy is God.

Goeie Nuus: Al is ons geloof soms weg omdat ons bang is, is ons veilig omdat Jesus ons Redder sterker is as die dinge (storms, chaos) wat ons bang maak.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Soms maak donderweer of harde reën of ʼn sterk wind ons bang. Ander kere is dit dinge wat mense doen, rusies, boelies, hartseer of selfs eksamens en siektes wat ons bang maak. Wanneer dit vir jou voel daar is chaos in jou lewe – dat jou bootjie vol water word – en jy word baie bang, is dit nodig om te onthou: Jesus is by jou. Hy het vir sy dissipels (en vir jou) belowe Hy is altyd by hulle. Jesus is God en Hy kan doen wat God doen.

Leef dinge

Toe Jesus op aarde was, het Hy ʼn menslike liggaam gehad. Sy dissipels het Hom gekry waar Hy as mens gelê en slaap het. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, is Hy nie meer net op een plek nie. En voordat Hy hemel toe is, het Hy belowe die Heilige Gees sal by ons wees. Deur die Gees is dit asof Jesus self die hele tyd by ons is, al sien ons Hom nie.

Dit is nogal ʼn kuns om altyd te onthou dat Jesus by ons is. Ons vergeet dit so maklik en dan raak ons baie paniekerig. Dan baklei ons met mekaar en pak die skuld vir al die probleme op ander mense. Miskien moet ons oefen om die hele dag te onthou: God is by my. Hy is sterker as enigiets wat my bang kan maak. Hy bring vir my vrede.

Gesels dinge

1. Wys jou bootjie vir die mense by die huis en vertel vir hulle wat die gesiggie en die kruis op die seile beteken.

2. Gaan sit saam om ʼn tafel. Gee vir elkeen ʼn beurt om vir die ander te sê wat hulle bang (angstig of ongelukkig) maak. Luister mooi na mekaar.

3. Maak planne om mekaar te help met die dinge wat julle bang maak. Bid dan vir mekaar.

Kom ons bid

Bid vir mekaar.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Wees mekaar genadig. Efesiërs 4:32

  • Julle moet vriendelik wees met mekaar. Julle moet jammer wees vir mekaar en julle moet mekaar help. Christus het gesterf en God het julle vergewe. Daarom moet julle mekaar ook so vergewe. (die Bybel vir almal)

  • Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het. (Nuwe lewende vertaling)

  • Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (1983 vertaling)

  • Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus sʼn is. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Johan het probeer om nie te huil nie toe hy die oggend by die skool uit die kar klim. Gister se rugby oefening was aaklig. Ben het sir hom gelag toe hy nie die bal kon vang nie. Ben was mislik met hom en die spanlede het toe ook vir hom gelag. Toe Johan nog so aanstap na die klas sien hy vir Ben sukkel met ʼn stel krukke. Ben het sy been gebreek en was gisteraand in die hospitaal.

In die klas vra juffrou of iemand vandag vir Ben sal help om sy tas te dra. Johan weet dat ons mekaar genadig moet wees en hy weet wat die regte ding is om te doen. Vir die volgende paar weke dra Johan Ben se tas vir hom.

Wat is genade?

Johan was Ben genadig. Genade beteken om iets goeds vir iemand te doen al verdien hulle dit nie. Genade beteken om liefde te bewys teenoor iemand al het hulle jou seergemaak. Jesus is ons beste voorbeeld van genade. Jesus het uit die hemel aarde toe gekom om te sterf vir ʼn klomp sondige mense wat die heeltyd ongehoorsaam is.

Jesus het gekom om alles vir ons te gee.

Hoe kan ek genadig wees?

Is daar iemand wat jou seer gemaak het? Dink aan drie maniere hoe jy vir daardie persoon genade kan wys. Jesus sê dat ons selfs die mense wat nie lief is vir ons nie, moet liefhê. Dit is ʼn baie moeilike ding om te doen, maar met hierdie versie in jou hart, is dit moontlik.

Bid

Here, dankie dat ek geleer het van genade. Wys asseblief vir my vir wie moet ek hierdie week genadig wees. Dankie Jesus vir genade. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Twee gelyk stom van verbasing.

33 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page