top of page

Junior kategese geselsbriefie 25 Februarie


Waar is ons in die kerkjaar?

Lydenstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Markus 5: 21 – 43.

Week tema:

Twee gelyk – stom van verbasing.

Die manier waarop Jesus met ʼn siek vrou werk en aan ʼn dogtertjie nuwe lewe gee, gee vir ons die vrymoedigheid om met ons grootste en ernstigste krisisse na Hom toe te gaan.

Agtergrond in interpretasie

Markus gebruik in sy Evangelie ʼn metode om ʼn “verhaal binne ʼn verhaal” te plaas. Hierdie tegniek verhoog nie net die spanningslyn nie, maar elke aspek van die storie help om die ander te verklaar.

Die twee vroue se verhale speel albei oor twaalf jaar af (v 25 en 42). Die dogter word groot in die huis van ʼn man met aansien. Sy naam en status word genoem. Die vrou is onrein solank sy bloedvloeiing het. Volgens die gebruike in Israel (Deut. 15:19-30) moes niemand aan haar of haar klere raak nie, want dan sou hulle ook onrein wees. Sy moes dus wegbly van ander mense af. Die vrou se toestand word met nie minder nie as sewe deelwoorde beskryf.

Dis asof die sewe deelwoorde die spanning tot by die hoogtepunt laat opbou: Die vrou raak aan Jesus se klere. Haar lydensproses oor 12 jaar heen word dramaties beskryf. Haar toenadering tot Jesus in ʼn skare was heeltemal ongeoorloof. Dit verklaar ook hoekom sy bang was dat Jesus haar sou “uitvang”. Maar Jesus verstoot haar nie; inteendeel, Hy bemagtig haar. Hy noem haar “dogter” (wat van deernis getuig, maar ook ʼn aanduiding kan wees dat sy nou deel is van die geloofshuisgesin; vgl. 3:31-34). Hy spreek sy waardering vir haar geloof uit voordat Hy haar in vrede wegstuur. Die genesing van hierdie onwaardige vrou, binne die verhaal van die genesing van die waardige raadslid se dogter, vertel vir ons hoe Jesus is.

Vir die tweede keer raak Jesus aan ʼn onrein mens toe Hy die (dooie) dogtertjie se hand neem. Die uitwerking van Jesus se aanraking is nie dat die onreinheid van die mense na Hom toe oorgaan nie, maar dat sy genesende krag hulle verander. Jesus is anders… en Hy laat die mense stom van verbasing.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Jaïrus kom pleit by Jesus.

  2. Die siek vrou word genees.

  3. Jesus genees Jaïrus se dogtertjie.

Uitkoms

1. Klim (met empatie) in die skoene van die vrou en ervaar die krag wat van Jesus af uitgaan.

2. Goeie nuus: Wanneer ons dink ons drome lê aan skerwe (soos Jaïrus se drome vir sy dogtertjie juis nou aan die begin van haar grootwordjare), gee Jesus vir ons nuwe lewe.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

As jy daardie dag daar was, sou jy seker vir almal vertel het wat gebeur het. Ek sou… Maar Jesus het gesê hulle mag dit nie oorvertel nie. Hoekom nie? Miskien sou die mense Hom dan wou koning maak, en dit is nie waarom Hy aarde toe gekom het nie.

Leef dinge

Hierdie storie gee vir ons baie moed. Jesus kan slegte dinge wat al baie lank aanhou, verander. Hy kan ook dinge wat baie erg is, soos die dood, omkeer. Ons kan ons geheime (soos die vrou se siekte) na Jesus toe neem. Hy sal dit verander en ons terugplaas tussen die mense, soos Hy die dogtertjie aan haar gesin teruggegee het, of soos Hy die vrou gesond gemaak het sodat sy weer tussen mense kon wees. Waar Jesus is, gebeur dinge wat ons stom van verbasing maak. Jesus is God.

Gesels dinge

Dink saam terug oor die afgelope 12 jaar. Vertel vir mekaar wat die swaarste dinge was wat in hierdie 12 jaar met julle gebeur het.

Vertel vir mekaar van al die wonderlike dinge wat die afgelope 12 jaar met julle gebeur het.

Kom ons bid

Bid vir vrede vir mekaar.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

ʼn Eenrigting straat. Johannes 14:6

  • “Ek is die pad, Ek is die waarheid, Ek is die lewe. Niemand kan by die Vader kom as hy nie in My glo nie.” (die Bybel vir almal)

  • “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.” (Nuwe lewende vertaling)

  • “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (1983 vertaling)

  • “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en My Vader die ‘adres’. Wie die pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ʼn ander pad loop, sal hy nooit by My Vader uitkom nie.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

As julle weer ry, laat mamma of pappa vir julle ʼn straatteken wys wat ʼn eenrigtingstraat aandui (dit is ʼn wit pyl op ʼn rooi agtergrond, aan die “verkeerde kant” van die eenrigting sal dit ʼn horisontale wit streep op ʼn rooi agtergrond wees). Die pad na Jesus is so ʼn eenrigtingstraat, as jy in so ʼn straat afry, kan jy nie omdraai en terug gaan nie. Jy kan ook nie in die verkeerde rigting in ʼn eenrigtingstraat opry nie. Almal wat in die eenrigtingstraat ry, gaan in dieselfde rigting, julle is almal op pad – die pad is Jesus – na dieselfde adres – die Vader.

Jesus is die pad.

Die pad wat jy gebruik om by die Vader te kom, is om in Jesus te glo, Hom in jou lewe in te nooi en Hom te ken. Jy moet glo dat Jesus die Seun van God is en dat Hy vir jou gesterf het. As jy dit doen, is jy op die eenrigtingstraat na die hemel!

Net een pad.

Die Bybel vertel vir ons dat daar net een pad na God is. Jesus is die enigste pad na God.

Bid

Dankie Jesus, ek weet dat daar net een pad na God is. Ek sal dit altyd onthou en vir ander mense vertel. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Vry na 18jaar.

18 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page