top of page

Junior kategese geselsbriefie 11 Maart


Waar is ons in die kerkjaar?

Lydenstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Markus 10: 17 – 31.

Week tema:

Wat keer my?

 Daar is dinge wat ons kan keer om Jesus voluit te volg.

Agtergrond in interpretasie

 Hierdie gedeelte gaan oor die vraag oor wat iemand wat vir Jesus wil volg, moet doen (hoe ons ons geloof uitleef). Jesus haal in vers 19 net gebooie oor naasteliefde (en nie oor liefde vir God nie) aan, want dit is op hierdie vlak dat daar ʼn probleem is. Al het Jesus hierdie jongman lief en al praat Hy reguit met hom, is die roeping “onsuksesvol”. Die jongman stap bedruk weg. Vir dié wat in die ryk jongman se skoene geklim en gehou het van die manier waarop Jesus hom liefgekry het, is die “wegstap”-deel die oomblik van waarheid.

Vers 27: “Dissipelskap beteken om te leef met die verwagting en die vertroue dat ʼn nuwe orde inderdaad gedaal het en dat die Garant (=die Een wat dit waarborg) van die orde nie net die moontlike nie, maar ook die onmoontlike kan doen” (Coenie Burger, Woord teen die Lig I/8, 122). Vir volgelinge van Jesus is dit duidelik dat hulle nie die koninkryk of ewige lewe kan verdien nie, maar dat hulle geroep word om Jesus sonder voorbehoud te volg en te ervaar hoe God self die onmoontlike doen. Dissipels van ʼn Joodse leermeester soos Jesus sou hulle familie en werk agtergelaat en hulle hele lewe daaraan toegewy het om soos hulle leermeester te word. Geld kan egter soos boeie word wat jou gevange hou binne ʼn sekere soort denke en in ʼn ruimte waar mense mekaar gebruik om nog meer geld te maak, maar nie vir mekaar versorg soos in ʼn huisgesin nie. Binne hierdie nuwe huisgesin ervaar jy egter ook vervolging (lyding). Dissipels kan in die versoeking kom om soos minderwaardige mense (laastes) te voel en te leef. Jesus help hulle om anders oor hulleself te dink en moedig hulle daarom aan om met vreugde in hierdie nuwe samelewing te leef wat God vir hulle moontlik gemaak het.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

1. Jesus praat met die jongman, maar hy sukkel om Jesus se (liefdevolle) uitnodiging te aanvaar.

2.  Jesus praat met sy dissipels en help hulle om te verstaan dat God alleen dit moontlik maak om ʼn volgeling van Jesus te wees.

3.  Jesus praat met Petrus en sy ander volgelinge oor sy nuwe koninkryk.

Uitkoms

Ervaar: Gaan staan eers in die skoene van die ryk jongman, en dan in Jesus se dissipels se skoene. Voel die ongemaklikheid. Vind uit wat ons kan keer om Jesus met volle oorgawe te volg.

Aanvaar: Aanvaar die uitnodiging tot God se koninkryk terwyl jy ontdek God doen dinge in jou lewe wat vroeër vir jou onmoontlik gelyk het.

Insig: Dissipels kry ʼn nuwe familie; hulle ervaar swaarkry in hierdie lewe, maar ontvang ook die ewige lewe.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink aan alles wat vir jou belangrik is. Is dit dalk ʼn besitting, ʼn mens of iets wat jy doen of graag wil hê? Miskien spaar jy om iets te koop, of dalk wag jy om iets te kry of te doen.

Dink nou aan iemand wat niks het nie, of aan iemand wat swaarkry.

Dink aan mense wat niks het nie.

Dink nou aan wat Jesus dalk vir jou sal vra om prys te gee of weg te gee sodat jy Hom beter kan volg. Wat sal dit wees? Is dit meer as een ding?

Leef dinge

Jesus het die ryk jongman genooi om alles wat hom gekeer het, agter te laat en Hom voluit te volg. Jesus het sy dissipels daarop voorberei dat die lewe nie altyd vlot sal verloop nie. Hy het hulle egter getroos deur hulle te help om met ander oë te kyk na mense en na alles wat God vir sy volgelinge gee.

Gesels dinge

Praat saam oor hierdie stelling: Jesus help ons om meer soos Hy te wees.

Doen dinge

Help iemand wat minder as ons het.

Kom ons bid

Bid vir arm mense en vra dat die Here vir julle sal wys wat julle kan doen om te help.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Nooit te jonk nie. 1 Timoteus 4:12

  • Jy is jonk, maar niemand moet dink daarom is jy nie belangrik nie. Nee, jy moet vir die gelowiges wys hoe hulle moet lewe. Jy moet dit vir hulle wys wanneer jy praat en met jou mooi lewe. Jy moet wys dat jy lief is vir mense, en jy moet aanhou glo en jy moet heeltemal reg lewe. (die Bybel vir almal)

  • Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ʼn voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit. (Nuwe lewende vertaling)

  • Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ʼn voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. (1983 vertaling)

  • Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ʼn Christen moet praat en wat ʼn Christen moet doen. Ja, wys vir hulle hoe ʼn Christen moet liefhê en op God vertrou, en hoe skoon ʼn Christen se lewe moet wees. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Goeters wat jy nie kan doen nie

As jy nog jonk is, is daar sekere goed, wat ouer kinders kan doen, wat jy nog nie kan doen nie. Die ander kinders spot jou maklik as jy iets nie kan doen nie. Hierdie week is daar ongelooflike nuus vir jou!

Goeters wat jy kan doen.

Hierdie eerste brief van Timoteus is ʼn brief van Paulus aan die jong sendeling Timoteus. Paulus vertel vir Timoteus dat hy nie bekommerd hoef te wees dat hy te jonk is nie. Selfs al is jy jonk, kan jy ʼn groot verskil in die wêreld maak. Paulus vertel vir Timoteus dat daar vyf maniere is om ʼn verskil in die wêreld te maak:

Met jou woorde – Jy kan ʼn voorbeeld wees deur dinge wat jy sê. As jou woorde aan ander mense goedaardig en ondersteunend is, wys jy vir ander mense hoe om te leef.

Hoe jy leef – jy kan ʼn voorbeeld wees met die manier hoe jy optree. As jy goeie keuses maak en ander mense behandel soos Jesus wil hê, dan wys jy vir ander mense hoe om te leef.

Met jou liefde – Jy kan ʼn voorbeeld wees met die manier hoe jy lief het. As jy lief is vir ander, soos jou boetie en sussie en die boelie by die skool, wys jy vir ander hoe om te leef.

Met jou geloof – Jy kan ʼn voorbeeld wees deur geloof te hê. As jy in God glo weet dat Hy altyd by jou is, wys jy vir ander mense hoe om te leef.

Met ʼn mooi lewe – Jy kan ʼn voorbeeld wees deur ʼn mooi en skoon lewe te leef.

Dit is vir Jesus belangrik dat jy ʼn voorbeeld sal wees vir ander.

Bid

Jesus, dankie dat ek nou weet dat ek nie te jonk is om ʼn voorbeeld vir ander te wees nie. Jesus help my asseblief om ʼn voorbeeld te wees wanneer ek praat en wanneer ek doen. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Jesus soek en red mense.

49 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page