top of page

Junior kategese geselsbriefie: 28 Mei


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Pinkster.

Jaar tema:

Ene ore! Nuwe maniere

Hoe voel jy wanneer jy met iemand praat en hulle luister nie na jou nie? Dit is nie lekker nie. Die Here praat ook met ons en Hy is net so hartseer wanneer ons nie luister na wat Hy sê nie. Ons leer hierdie jaar uit die Bybel en uit die voorbeeld van Bybelkarakters hoe om na die Here te luister en dan nuut te gaan leef!

Week tema:

Hoe lyk jou leefstyl?

Die Heilige Gees kom bly in God se kinders en laat mooi dinge in hulle lewens uitkom soos wat ’n boom vrugte dra.

In Galasiërs verduidelik Paulus dat ons gered word deur die verlossing wat Jesus Christus bewerk het, en nie deur allerhande wette of voorskrifte na te volg nie. Die wet en voorskrifte soos die besnydenis of oor watter kosse om nie te eet nie, kan ons nie die ware lewe gee nie. Sulke voorskrifte en wette maak jou soos ’n slaaf wat reëls moet gehoorsaam. Dit is nie soos in ’n liefdesverhouding tussen ’n ouer en sy kind of ’n afrigter en sy leerder nie. Deurdat Jesus ons losgekoop het, weet ons dat ons kinders van God is. Daarom Het God sy Gees in ons harte uitgestort en is ons nou in ’n verhouding met Hom: ons noem Hom Vader (Gal 4:5-7) en is sy erfgename. En so wil ons graag leef en nie met wette en reëls in toom gehou word nie.

Vanuit hierdie basis word daar nou met gelowiges gepraat. Ons vryheid is nie ’n vrypas om sonde te doen nie, maar om waarlik te kan leef. En hierdie ware leefwyse is om mekaar (broers en susters – vers 13) in liefde te dien. Hy verduidelik dat die sondige natuur in ons baklei met die Gees van God in ons. Die gedrag van mense wat luister na die sondige natuur, word beskryf met ’n reeks begrippe wat aantoon dat dit sy medemense net gebruik en seer maak, en daarom nie werklik vry is nie. Wanneer ons toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal, kom daar mooi dinge na vore wat tot voordeel van die naaste is, en ons waarlik laat lewe.

Die volgende opmerkings oor die vrug van die Gees:

  1. Dit is ’n uitvloeisel van wat gebeur wanneer die Gees deur ons werk.

  2. Die ‘vrug’ word as ’n eenheid beskryf. Dit vorm alles deel van die eenheid. Die een hoort by die ander.

  3. Dit is nodig dat ek, as volgeling van Jesus, die negevoudige vrug van die Gees ken (bewus is van die inhoud daarvan) sodat ek ook daarop sal konsentreer en die Heilige Gees beheer oor my lewe gee om dit in my te laat groei.

Bybelgedeelte

Galasiërs 5:13-25.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Die twee atlete.

  2. Ek is vrygemaak van slawewette, om ander in liefde te dien.

  3. Gee die Gees beheer en nie die ou sondige begeertes nie.

  4. Fokus op die nuwe leefstyl wat die Gees ons wil aanleer.

  5. Lewe deur die Gees en laat dit in jou gedrag uitkom.

Uitkoms

  1. Insig: Die vrug van die Gees is ’n nuwe leefstyl en nie nuwe wette nie. Die een leefstyl begin by die sondige selfsugtige gedagtes in ’n mens voordat jy die Here leer ken het. Omdat jy nou bang is vir God, probeer jy ’n paar goeie wette doen, en dink alles is dan reg. Jy bly dan ’n slaaf.

  2. Die ander leefstyl begin by die Heilige Gees. Die Gees werk in God se kinders. Hierdie kinders is nie slawe wat vir God bang is en net ’n paar wette wil doen om God te ‘please’ nie. Nee, hulle is kinders (vry!) wat God vertrou en Hom vra om hulle te help om in liefde te leef.

  3. Aanleer: Die vrug van die Gees.

  4. Gebed: Vra die Gees om hierdie dinge in my gedrag te laat wys.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Dink aan ’n heerlike lemoen of ’n nartjie of ’n druiwetros. Dis almal vrugte met verskillende skyfies of korrels wat van een plant kom en bymekaar hoort. Die vrug van die Gees is ook die een vrug van die Gees wat baie kante of dele het wat bymekaar pas. Dis hierdie vrug wat in my lewe sigbaar is wanneer die Heilige Gees in my kom woon.

Doen dinge

Net die Here self kan jou lewe mooi maak met die vrug van die Heilige Gees. Toe ons die saligsprekings gedoen het, het ons gesien dat dit begin met “Geseënd is die mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is.” Die vrug van die Gees begin ook daar waar ons weet hoe afhanklik ons van God is: Ek kan nie self hierdie vrug maak nie, God vorm dit in my lewe en dan is dit daar vir almal rondom my om te geniet.

Dink daaraan: Ek is soos ’n boom wat vrug dra. Die Heilige Gees laat dit in my lewe sigbaar word. Laat jou verbeelding gaan en kyk wat sien jy alles in jou gedagtes.

Leef dinge

Liefde: Hoe kan jy liefde aan ander mense bewys?

Vreugde: Wat verander jou donker gevoelens in sonskyn?

Vrede: Wat maak jou kwaad en neem jou vrede weg?

Geduld: In watter situasies moet jy geduldiger wees en moed hou?

Vriendelikheid: Wie tree altyd vriendelik teenoor jou op?

Goedheid: Hoe kan jy wys dat jou hart van goedheid oorloop?

Getrouheid: Teenoor wie of waarmee moet jy getrouer wees?

Nederigheid: Dink jy soms jy is beter as ander?

Selfbeheersing: Hoekom is dit so belangrik in ’n jongmens se lewe?

Kom ons bid

Here help my om die vrug van die Gees te dra.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Van begin tot einde: Filippense 1:6.

  • God het begin om ʼn goeie ding in julle harte te doen. EK is baie seker dat Hy dit sal klaarmaak op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. (die Bybel vir almal)

  • Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom. (Nuwe lewende vertaling)

  • Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (1983 vertaling)

  • Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly dien tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Onthou jy toe jy iets spesiaals vir Mamma gemaak het? Dit is altyd lekker om te begin, om alles reg te kry en dan te begin, maar die belangrikste is om KLAAR te maak. Ai, Mamma wil tog nie ʼn halfklaar persent hê nie, né? Hoe sal dit voel as Mamma koekies bak, maar dit nooit in die oond sit nie. Sy sit dit sommer so rou in die koekblik! Dit sal nie lekker wees nie! As jy iets begin, MOET jy dit klaar maak!

God begin die werk.

Hierdie week se versie leer ons dat God die een is wat Sy werk in jou begin het. Hy het uitgereik na jou en jou gekies. Voor jy God gekies het, het Hy jou al gekies! God beloof dat hy Sy werk met jou klaar sal maak. God beloof dat Hy jou nooit sal los nie en dat Hy altyd daar sal weer om vir jou die pad te wys. Is dit nie ʼn wonderlike belofte nie?.

God maak die werk klaar.

Jy kan nie meer onthou toe jy leer loop het nie. Dit was lank terug! Wanneer babas leer loop, wil hulle aan hulle ouers se vinger vashou. Dit werk vir ʼn paar minute, maar wanneer die baba los of struikel, val hy. Pappa en Mamma leer gou om baba styf vas te hou terwyl hy stap. Net so hou God ons hand vas. Daar is tye in jou lewe wanneer jy God se vinger wil los, maar God hou jou vas. Daar is kere wanneer jy wonder of God jou nog vashou, maar wees verseker, Hy is daar. Filippense 1:6 beloof dat Hy altyd jou hand vashou en dat Hy nooit los nie. God maak die werk wat Hy met jou begin het, klaar.

Bid

Liewe Jesus, dankie dat ek gekies is en dat God in my lewe werk. Dankie Jesus, dat ek kan weet dat ek nooit alleen sal wees nie en dat Jy my hand altyd vashou. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 4 Junie, Gereed vir God se nuwe wêreld.

82 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page