top of page

Om dieper te kyk

Om te leer om dieper te kyk is nie maklik nie. Ons dualistiese manier van dink, waar alles in wit en swart of reg en verkeerd ingedeel word, maak eintlik dat ons net na die oppervlak van die lewe kyk, sonder om te vra wat gebeur regtig hier, of wat lê agter dit wat ek voor my sien. Een van die grootste gawes van die kontemplatiewe spiritualiteit is juis dít: Om soveel as moontlik raak te sien en soveel as moontlik opsies te oorweeg. Een dissipline wat ons hiermee kan help is Visio Divina. Visio Divina is basies soos Lectio Divina, met die verskil dat ons in Lectio Divina woorde lees, en in Visio Divina beelde. Die Oosters Ortodokse tradisie van die kerk was van die begin af baie meer gemaklik daarmee om iets van God en sy realiteit in beelde raak te sien as die Westerse tradisie. Die Weste was vir baie jare amper vasgevang in die knyptang van formulerings, en die strakke soeke na wat nou die regte woorde sou wees, terwyl ons daarmee saam dalk ‘n ryker intuïtiewe kennis en vermoë om dieper te kyk verloor het. Tim Mooney skryf so hieroor: With our culture becoming more and more visually oriented, an intentional way of praying with images is needed now more than ever. Visio Divina invites us to see at a more contemplative pace. It invites us to see all there is to see, exploring the entirety of the image. It invites us to see deeply, beyond first and second impressions, below initial ideas, judgments, or understandings. It invites us to be seen, addressed, surprised, and transformed by God who is never limited or tied to any image, but speaks through them. Visio Divina volg basies dieselfde stappe as Lectio Divina: 1. Silencio: Word eers stil. 2. Visio (Lectio): Neem die prent of beeld wat jy gekies het en kyk intens en met liefde en openheid daarna. 3. Meditatio: Vra vir jouself vrae oor wat jy hier sien. Dink vanuit verskillende hoeke oor die beeld en wat dit van God en sy dieper realiteit wil verwoord. Skryf ‘n paar sinne of ‘n gedig oor dit wat jou raak. 4. Oratio: Praat met God oor wat jy sien. 5. Contemplatio: gee jou in stilte oor aan God en sy teenwoordigheid terwyl jy die beeld voor oë hou.

Een so beeld wat my al ‘n geruime tyd diep raak is die werk van Grace Remington: The Virgin Mary consoles Eve. Die versoeking is groot om sommer te sê wat hierdie beeld in my wakker maak en hoe ek God hierdeur hoor praat, maar ek wil jou nooi om self daarmee te sit en self by ‘n dieper verstaan van hierdie beeld te kom. Om jou gedagtes aan die gang te kry: Kyk na die liggaamshoudings van die twee figure. Wat sien jy? Wat lees jy in die 4 posisies van hulle hande? Wat kommunikeer die gesigsuitdrukkings? Kyk na die slang: wat gebeur by Eva? En by Maria? En wat is die implikasie hiervan? Wat dink jy sou God deur hierdie beeld aan jou persoonlik in jou omstandighede kommunikeer? Volg nou die stappe van Visio Divina om jou hierdeur te beglei. Mag die Here jou in hierdie paar weke tot ons mekaar weer sien, leer om in alles dieper te kyk en Hom raak te sien op plekke waar jy vantevore nie na Hom sou soek nie.

Liefde, Marina

93 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page