top of page

Junior kategese geselsbriefie





Hier is die geselsbriefie vir die junior kategese, Sondag 7 April 2019.


Waar is ons in die kerkjaar?

Lydenstyd.

Kategese jaar tema:

Wow, dis waar.


Bybel gedeelte

Johannes 20:1-18.


Week tema:

Ek glo Jesus het opgestaan.

Jesus se opstanding was ʼn onverwagse verrassing wat vir ons as sy volgelinge moed gee wanneer ons deel word van sy triomftog waarin Hy baie mense saam met Hom neem.


Agtergrond en interpretasie

In die vorige twee ontmoetings het ons oor die “trappe van vernedering” op Jesus se lydenspad gesels. Vandag en in die volgende ontmoeting gaan ons gesels oor die omgekeerde hiervan: die “trappe van verhoging”. Hierdie vyf groot trappe van verhoging is deur die geskiedenis geïdentifiseer as: Jesus se opstanding, sy Hemelvaart, sy regering aan die regterhand van God, sy wederkoms en sy finale triomf.

Maria Magdalena speel ʼn belangrike rol in Johannes se opstandingsverhaal. Anders as in die ander Evangelies, vertel Johannes nie van die ander vroue wat ook na die graf toe gegaan het nie. Hy noem net vir Petrus en “die ander dissipel”, wat waarskynlik hy self was. Die verhaal bou op tot ʼn hoogtepunt om aan te toon hoe verrassend die opstanding vir Maria Magdalena en die dissipels was: Selfs toe Jesus self met haar praat, dink sy eers dis die tuinopsigter.

Vers 16-17 vorm die hoogtepunt van die verhaal. Hier noem Jesus vir Maria Magdalena op haar naam. Dit is ʼn baie persoonlike oomblik. Hy roep haar soos die goeie herder sy skape op hulle naam roep en uit die kraal lei (Joh. 10:3).

In vers 17 sê Jesus vir haar sy moet Hom nie vashou nie. Hierdie vers is deur die geskiedenis heen deur verskillende kunstenaars uitgebeeld. Hier is ʼn afdruk van Martin Schongauer (c 1435-1491) se skildery Noli me tangere (dit beteken: “Moet My nie vashou nie”). Dit is vandag in die Unterlinden-museum in Colmar, Frankryk (http://roughplacesplain.tumblr.com/post/20805210320/noli-me-tangere). In hierdie skildery stap Christus met die vlag van oorwinning weg, maar kyk tog vir Maria in haar oë.

Die kruis is agter die rug. Jesus is op pad na sy Vader toe. Die Hemelvaart is op hande (vers 17). BA Müller skryf in Woord teen die Lig I/3: “Die hele Evangelie van Johannes is gerig op die verhoging, ʼn verhoging wat kruis, opstanding, Hemelvaart en die belofte van die Gees in een geweldige bondel saamvat. As die Een wat so verhoog word, sal Hy alle mense na Hom trek (12:32; vgl. 3:14; 8:28). So kom die wêreldsending vanuit hierdie omvattende verhoging in sig.”

Jesus, die Een wat op die punt staan om na sy Vader toe op te vaar, stuur Maria terug na die dissipels toe om hulle in sy triomftog op te neem: Sy Vader is ook hulle Vader, en sy God is ook hulle God. (Dit herinner ons nogal aan Rut.) Jesus bring hiermee vir Maria en die dissipels in beweging – vir deelname aan sy triomftog.

Jesus se triomftog word ook ons triomftog wanneer ons in Hom glo en Hom bely. Dit gee vir ons krag om teenstand en bedreigings in die oë te kyk.


Hoofgedagtes van die ontmoeting

1. Jesus het opgestaan, maar sy volgelinge het nog nie besef wat gebeur het nie.

2. Jesus verras vir Maria Magdalena.

3. Jesus kan nie as mens op aarde vasgehou word nie. Sy volgelinge is kinders van God.


Uitkoms

Insig: Die opstanding is ʼn onverwagse verrassing.

Respons: Neem as kinders van God hier op aarde aan Jesus se triomftog deel.


Dink, doen, gesels en bid

Dink

Elke keer wanneer ons sê ons glo in Jesus Christus wat op die derde dag opgestaan het, is dit asof Jesus ons in ons oë kyk, ons naam sê en verklaar: “Ons is op pad!”


Leef

Wanneer ons hartseer is, voel dit partykeer vir ons ons kan nie aangaan met die lewe nie. Dit is dan wanneer die lewende Here Jesus by ons kom staan en ons op ons naam noem. Hy maak ons kinders van sy Vader en dan kry ons nuwe moed!


Doen dinge

Gesels saam oor julle name. Hoe het jy jou naam gekry? Beteken jou naam iets besonders?

Maria Magdalena het vir Jesus “Rabboenie” genoem. Vertel vir mekaar wat julle vir Jesus noem wanneer julle met Hom praat.

Lees weer Johannes 20:17. Wie is almal deel van God se huisgesin?


Kom ons bid

Dankie Here dat Jesus die dood oorwin het en my op my naam roep.


Sondag 14 April

Ek glo Jesus is terug hemel toe.

49 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page