Die wêreld is ‘n baie stukkende plek. Die vraag is waarom? Nie omdat die wêreld as sulks ‘n gebroke realiteit is nie. Eerder as gevolg van ons mense.
Dink maar aan al die gebrokenheid om ons. Hoekom lyk dit so? Meestal omdat een groep mense glo dat hulle reg is en ‘n ander verkeerd. Eintlik wil ek nog verder gaan: meestal omdat een groep mense glo dat God aan hulle kant is en nie aan die kant van die ander nie. Hierdie globale menslike tragedie speel nie net daarbuite iewers af nie. Dit speel elke dag af in ons eie huise, ons eie vriendekringe en werksomgewings; in ons eie lewens.
Die manier hoe ons Christene teenoor mekaar optree is dikwels so vernietigend en destruktief dat dit eintlik nie help ons sê ons is Christene nie. Ek dink soms dat ons dan maar net sowel glad nie in Jesus kan glo nie. Dis presies hoekom die wêreld so ontnugter is met ons Christene. Ons bely dat ons in Jesus glo, maar dit waarvoor Jesus staan het dalk nog nie deurgespoel tot in ons harte en ons tot in ons diepste wese getransformeer nie. Hieroor het Ghandi mos op ‘n dag gesê: I Love your Christ, but I can’t take you Christians. You Christians are so unlike your Christ.
Jesus se Lewe en Pad wil ons leer om nie die vreeslike menslike ding te doen deur óf slagoffers te maak óf slagoffers te wees nie, maar om in moeilike situasies in ons lewe te gaan sit met wat werklik aan die gebeur is en toe te laat dat die pyn en ongemak van die situasie ons lei om by Hom uit te kom en by Hom te leer van sterf aan my behoefte om die fout op ander plekke te soek, maar eerder toe te laat dat dit wat gebeur my omskep tot God se nuwe mens.
Dit voel amper bonatuurlik, en dit is, want dit is waarmee God se Gees in ons lewe wil besig wees.
Die hele Nuwe Testament eggo hierdie gedagte, en daarom sou mens ‘n hele klomp tekste kon kies om dit te beklemtoon.
Een so teks is Gal 5: 14 Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15 Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. (Lees sommer die verse tussenin ook). 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26 Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.
Ek wil jou nooi om te gaan sit met al jou verhoudings en toe te laat dat God sy lig daaroor skyn en jou ego konfronteer om hom- of haarself te onderwerp aan Jesus se manier van dink en leef.
Niemand van ons is bo verdenking wat hierdie optrede aanbetref nie. Trouens weet ons maar al te goed dat dit ons mense se default/verstek modus is om ander te blameer en te veroordeel en te kritiseer, maar ons moet besef dat hierdie gedrag lynreg teen die grein van die Evangelie van Christus ingaan. Ek en jy hou dalk nie daarvan om hierdie te hoor nie, maar ons het nodig om onsself elke nou en dan in die spieël te sien en te besef: sulke gedrag by ons as God se kinders, trek ‘n streep deur ons belydenis dat ons in Jesus glo. Of soos iemand op ‘n dag gesê het: If becoming religious has made you more judgmental, rude, harsh or a backbiter, you need to check if you are worshiping God or your ego.
Johannes 13:35 is reg wanneer Jesus daar sê: Aan julle liefde vir mekaar – liefde in al sy gestaltes – sal mense weet dat ons Sy kinders is. Op geen ander manier nie. Dink wat sou in ons lewens en die wêreld kon gebeur as ons maar soos Christus was…