top of page

Junior kategese geselsbriefie: 14 Mei


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in die veertig dae van Opstandingstyd.

Jaar tema:

Ene ore! Nuwe maniere

Hoe voel jy wanneer jy met iemand praat en hulle luister nie na jou nie? Dit is nie lekker nie. Die Here praat ook met ons en Hy is net so hartseer wanneer ons nie luister na wat Hy sê nie. Ons leer hierdie jaar uit die Bybel en uit die voorbeeld van Bybelkarakters hoe om na die Here te luister en dan nuut te gaan leef!

Week tema:

Ons Vader – vergewe ander mense.

Jesus vergewe ons, sy volgelinge, elke dag sonder dat ons dit verdien en leer ons om mekaar ook so te vergewe.

Die boodskap om ander mense te vergewe is baie belangrik vir die gemeente aan wie Matteus hier skryf. Dit is omdat hulle tussen mense gebly het wat hulle baie sleg behandel het omdat hulle in Jesus geglo het en Christene was. Daardie mense het hulle gespot en seergemaak. Daarom praat Matteus met hulle oor hoe Jesus wil hê hulle moet optree teenoor mense wat hulle sleg behandel. Die gedeelte in die Ons Vader-gebed wat daaroor gaan om ander mense te vergewe, word verder in Matteus 18:21-35 uitgebrei.

Bybelgedeelte

Matteus 6:9 – 15; 18;31 – 35.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Die Ons Vader-gebed leer ons ook van vergifnis. Dit is daarom ’n belangrike opdrag van Jesus wat ons nie kan vergeet of nalaat om te doen nie.

  2. Mense sukkel om ander mense te vergewe. Petrus wil by Jesus hoor hoe baie kere jy ander mense moet vergewe.

  3. Jesus leer ons om anders te dink oor vergifnis. Hierdie tipe vergifnis is soos ’n aflosstokkie wat ons van Jesus kry en vir alle mense moet aangee.

Uitkoms

  1. Insig: Die Christen manier van vergewe kom direk van Jesus af en is anders as wat ander dit sou doen. Jesus leer ons dus hoe om ander te vergewe.

  2. Die kinders word begelei om vir Jesus om vergifnis te vra vir al hulle sondes.

  3. Die kinders word begelei om ander mense – mense wat hulle seergemaak en te na gekom het – te vergewe.

Dink, doen, gesels en bid

Dink en Doen dinge

Maak jou oë toe en dink aan iemand vir wie jy nog kwaad is of nou die dag nog kwaad was omdat hulle met jou lelik was. Het jy al vir daardie persoon gesê jy vergewe hulle?

Hier is ’n uitdaging vir elkeen vir hierdie week. Gaan sê vir iemand wat met jou lelik was en vir wie jy kwaad is dat jy hom of haar vergewe. As daardie persoon vir jou vra hoekom, dan sê jy dit is omdat God jou vergewe het en omdat Jesus betaal het, sodat God nie meer oor ons sonde kwaad is nie. Om te vergewe is om te verstaan wat God doen! Hy vergewe MY duisende ontelbare kere. Christene vergewe ander mense daarom ‘anders’. Ons vergewe, omdat ons vergewe is.

Gesels dinge

Gesels bietjie oor wat dit beteken om te vergewe. Gesels oor hoe mens voel as jy iemand nie vergewe nie, gesels oor hoe kwaad jy voel, hoe hartseer jy voel en hoe jy binne jou voel. Gesels dan oor hoe jy voel wanneer jy iemand vergewe, hoe voel jy binne jou? Watter een is lekkerder? Hoekom?

Kom ons bid

Here help my om mense te vergewe sodat die seerplek binne my gesond kan word. Here help my asseblief om te keer dat my lewe vergiftig word omdat ek liewer kwaad wil bly as om verde te maak.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was. Ek sal probeer om elke week ʼn versie saam met die geselsbriefie te stuur.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Trieng, trieng. Jeremia 33:3

  • Jeremia, jy moet tot My bid, dan sal Ek jou antwoord. Ek sal vir jou groot geheime vertel wat jy nie geweet het nie. (die Bybel vir almal)

  • Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie. (Nuwe lewende vertaling)

  • Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (1983 vertaling)

  • As jy My ʼn vraag vra, sal Ek jou ʼn antwoord gee. Ek sal vertel van ongelooflike dinge. Hierdie dinge in nou nog vir jou ʼn geheim, jy weet niks daarvan nie. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Jy ken mos mamma se selnommer, nè? Nou ja, hierdie week se versie, Jeremia 33:3, staan bekend as God se selnommer! Alhoewel God nie rêrig ʼn selfoon gebruik nie, wil Hy tog hê dat ons met Hom moet praat, enige tyd en Hy belowe dat Hy ons sal antwoord!

Praat met God

Dink bietjie oor wanneer jy en jou vriende gesels. Wanneer die een praat, luister die ander een. Dit is hoe kommunikasie werk. Wanneer ons bid, weet ons dat God luister, jy kan vir God enige iets en alles vertel en jy weet God luister na wat jy Hom vertel.

God antwoord

In hierdie week se versie, beloof God twee goed. Eerstens beloof God dat wanneer jy bid, sal Hy jou antwoord! Dit voel miskien nie of God na jou luister nie, maar God luister altyd. Hy is nooit te vêr of te besig nie. Tweedens beloof God dat wanneer ons bid, antwoord Hy op so ʼn manier, dat dit ongelooflik is. God wil vir ons wonderlike dinge wys, ons moet net bel.

Ons se baie keer ʼn tafelgebed, of by die skool of by die kerk, maar bid jy alleen? Dit kan baie spesiaal wees om alleen met God te gesels. Probeer dit, vertel vir God hoe jou dag was, wat jou bly gemaak het, wat nie lekker was nie en hoekom jy voel soos wat jy voel. Vra vir God oor die goed waaroor jy wonder en onthou om dankie te sê vir al die seëninge wat God vir jou gestuur het.

Bid

Liewe Vader, ek wil graag bel en met jou gesels. Dankie dat jy na my luister en altyd antwoord as ek bel. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 21 Mei, Die saaier – hoor én doen. Nagmaal by die Gesinsdiens.

92 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page