top of page
Ds. Paulus Burger

Hemelvaart



Ons kan dalk almal die storie van aspoestertjie onthou. Die mooi dogtertjie wat nêrens inpas nie. Haar stief sussies en stiefma sal alles in hul vermoë doen om haar uit die weg te ruim, om die lewe vir haar moeilik te maak. Sy dien hulle en moet die lewe vir hulle lekker maak. Sy het geen voorregte nie. Niemand gee regtig vir haar om nie. Op ʼn manier is dit hemelvaart. Elke jaar, voor ek begin preek maak is dit altyd my gevoel. Wat vier ons nou eintlik met hemelvaart? Wat wil hemelvaart vir ons sê? Maak nie saak hoe hard ons dit probeer vermy nie, ons is nie presies seker wat om daarmee te maak nie. Jesus gaan weg, los sy vriende hier en gaan na ʼn beter plek… Coenie Burger skryf ʼn klomp jare terug ʼn boek oor die hemelvaart, Waar is Jesus nou? Hoe Jesus ná sy Hemelvaart onder ons teenwoordig is en werk. Hierin stel hy dit duidelik dat dit die eerste belangrike kenmerk van hemelvaart is: Jesus nie meer sigbaar teenwoordig nie. Dit is waarskynlik die rede vir die dissipels se diepe onsteltenis. Die afskeid is net te moeilik.


En tog word die lewe gekenmerk deur permanente afskeid. Jy word gebore en hul troos jou met ʼn dummy, ʼn bersie en ʼn bottel. As jy 1 jaar oud is vat hulle jou dummy en jy mag net jou bottel kry as jy gaan slaap... dan gaan jy kleuterskool toe, maak lekker maatjies, hou van juffrou net om weer te hoor jy gaan nou groot-skool toe en gaan juffrou en jou maatjies nie weer sien nie. Iewers koop hulle vir jou ʼn goudvis en moes jy agterkom die ding kan nie so baie eet soos jy nie. Die trane en afskeid toe Nemo begrawe is, onthou jy nou nog baie goed. En so kan ons vertel van die hoërskool, van die vriend/vriendin wat getrek het, liefdesteleurstellings en die dag toe jy jou ouerhuis verlaat het, of nog erger toe jy ʼn geliefde aan die dood afgestaan het. As iemand nie meer liggaamlik by ons is nie, werk dit net nie uit nie. Dit is nie dieselfde nie.


Maar Jesus se weggaan is nie die einde nie, juis omdat Jesus se weggaan ʼn andersoortige weggaan is. Andersoortig, omdat sy weggaan nie eintlik ʼn weggaan is nie. Omdat sy weggaan ook ʼn ingaan is. Dit is wat die kerk deur die jare in Pinkster kom vier. Dat ons die Here self in ons het, dat Jesus se Gees by ons is. Jesus moedig daarom sy dissipels aan om nie net te sit en wag en die wolke dop te hou nie. Daar is geen troos in sit en wag nie. As dit waar is dat Jesus moet weggaan sodat ons ons weg kan vind, sodat ons die weg kan wees, beteken dit dat ons tog moet lewe. So, wat behels hierdie lewe/ hoe kan ons die weg wees?


Ek dink die lewe waarna Jesus ons nooi lyk soos die pad. Die weg, lyk soos die Een wat weggaan.


Daarom is Jesus se weggaan kragtig. Dit is kragtig want Hy is nou in ons, nie meer net as ʼn liggaam nie. Makliker gemaak, wanneer ek kies om agter Jesus aan te stap, wanneer ek kies vir daardie weg – vir daardie pad – sien ander mense Jesus (die pad)! Wanneer ek dus geduldig is, wanneer ek mense aanvaar, sien die wêreld Jesus, sien die wêreld die pad, die weg! En dit is ongelooflik kragtig. Jesus se weggaan maak dit moontlik dat Hy elke oomblik van elke dag, op elke plek in die wêreld teenwoordig kan wees! Meer as dit, in sy weggaan kom gee Hy Homself so in ons dat ons kan doen wat Hy gedoen het.


Wanneer ons dus kies om die pad agter Jesus aan te stap, kry ons die mag om te leef soos Hy geleef het. Ek en jy kan dus, doen wat Jesus gedoen het! Dit het te doen met die tyd wanneer Jesus nie meer liggaamlik hier is nie. Jesus sê: julle kan nie sit en wag en niks doen nie, want as ek weggaan moet julle die weg wees! Deur my te volg, deur te kies om agter my aan te stap – kry julle die mag om te doen wat ek gedoen het.


Hierdie lewe behels ʼn lewe van liefde. Hierdie lewe, lyk, smaak en voel soos liefde


Hemelvaart is inderdaad, die kerk se aspoestertjie – uit plek, weet nie regtig wat om daarmee te maak nie. Wat ons wel weet is dat aspoestertjie na die bal was, in ʼn pragtige rok en sy het met die prins getrou! Miskien moet ons so na hemelvaart kyk! ʼn Vreemde, andersoortige weggaan, wat ons nooi, ons wink om soos die weg te kies vir ʼn lewe van liefde. Dit is ʼn lewe waar ek teen selfsug (boelie), teen eiebelang kies. ʼn Lewe waar ek ook kies vir diens, vir nederigheid, vir geduld, vir verdraagsaamheid. Dit is die gesindheid wat ons in Jesus gevind het en wat Paulus van praat in Filippense wat ook in ons behoort te wees!

335 views0 comments
bottom of page