top of page

Junior kategese geselsbriefie: 6 Augustus


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Koningkrykstyd.

Week tema:

Luister, kinders van die Here.

Die Here het ons lief en ons leer om sy liefde in ons en ons gesin se totale lewens te laat deurwerk tot by die mense rondom ons.

Die Here se liefde is soos die grond en water waaruit ’n groot boom groei. Toe Hy Israel uit Egipte gaan haal het, het hierdie boompie begin groei. Toe Hy Israel in die woestyn versorg het, was dit of die boompie al groter word. Die Here het sy wil in tien gebooie (groot ‘woorde’) vir Israel gegee – dis soos tien groot takke wat uit die boom se stam (die liefde van God) sou groei, met allerhande klein takkies wat name gekry het soos voorskrifte, bepalings, wette, verordeninge, bevele… Ons weet nie eers vandag presies hoe alles gewerk het nie, want partykeer het hulle een van die takkies (soos ‘verordeninge’, of ‘wette’, of ‘gebooie’…) gebruik om na die hele boom te verwys. Omdat al hierdie ‘takkies’ uit die een stam groei, kan ’n mens sê dit verwys almal na dieselfde groot stam: God se wil. En wat is God se wil? Dit is dat sy liefde in mense se lewens moet kom sodat hulle weer kan liefhê.

Wanneer ons na hierdie hele groot Wet-boom kyk, wys dit iets: Die mense is vas aan God (verbind/verbond) en daarom kan hulle nie maak soos hulle wil nie. As die takke los van die boom is, gaan dit eintlik dood of is dit ‘wild’ en groei nie soos die boom nie, en dra ook nie die boom se vrugte nie. Solank die takke vas aan die boom is, vloei die Here se liefde en seën deur hulle. Die Here is dus die enigste ‘wortel’ vir hierdie boom. As Israel dink hulle kan soos takke op ’n ander wortel wees (vas aan afgode), gaan dit sleg gaan met hulle, want afgode bestaan eintlik nie. Dis net goed wat mense uitgedink het. Hulle kan jou nie liefhê en seën nie.

Een van die groot dinge wat dus in elke gesin en familie en groep huismense moes gebeur, was om mekaar gedurigdeur te herinner dat ons aan die Here vas is en dat sy wil/ sy liefde deur ons na ander mense toe moet gaan. Soos wat ’n mens ’n swaard gereeld skerp maak, so moet mense gereeld praat oor God se liefde en sy wil en hoe ’n mens dit in jou lewe kan wys.

Wanneer Moses en God se mense vorentoe kyk en hulle weet God gaan in die nuwe land vir hulle voorspoed gee, mag hulle nie vergeet dat dit Hy is wat nog steeds die wortel van die boom is nie. Om aan Hom vas te wees, beteken dat daar ‘onverdeelde trou’ moet wees: Net aan Hom vas, dag na dag na dag…

Nadat Jesus gekom het, kan ’n mens sê Hy is nou soos die stam van hierdie boom wat ons aan God die Vader verbind. Hy is nou in die middel tussen ons en die Vader en bind ons vas aan die Vader. Eers was daar die groot WET met baie takkies – dinge wat die mense nie kon regkry nie. Toe kom Jesus. Jesus is vas aan sy Vader en daarom het Hy sy dissipels genooi om Hom te volg, d.w.s. om te leef soos wat Hy leef. Nadat Hy weg is, het Hy sy Gees gestuur om in ons te kom werk en ons te help om met liefde te leef.

As ons dit nie regkry dat die liefde van God deur ons na ander toe vloei nie, mag ons nie moed opgee nie. Dan praat ons met Jesus daaroor en vertel Hom (erken) hoe sondig ons is en hoe ons sukkel. As ons dit regkry om liefde te wys, mag ons nie daaroor spog nie – dis eintlik God se liefde wat Hy deur die werk van die Heilige Gees deur ons stuur.

Bybelgedeelte

Deuteronomium 6:1-15.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  • Liefde begin by God

  • Die Here gee vir sy mense ’n manier waarop hulle moet leef sodat hulle gelukkig kan wees.

  • Daar is nie iemand anders wat ons regtig gelukkig kan maak en kan help om in liefde te leef nie. Daar is net een Here. Bly met alles wat jy het en is vas aan Hom.

  • Laat die hele gesinslewe vol word van die Here se dinge: hoor, dink, praat, kyk, herinner.

  • Moenie vergeet as dit met jou goed gaan nie. Moenie vir God los en dink ander gode beteken iets nie.

Uitkoms

  1. Luister: Die enigste Here wat ons eerste liefgehad het, sê ons moet Hom met alles wat ons is, terug liefhê.

  2. Oefen by die huise en waar ons huismense saam is, om altyd aan die Here te dink en om sy liefde deur ons te laat werk na ander toe.

  3. Waarskuwing: Moenie vergeet dat jy aan die Here vas is, wanneer dit met jou voorspoedig begin gaan nie.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Dink aan die boom. Jy is soos ’n takkie of blaartjie tussen die ander blaartjies. Dink aan die stam, aan Jesus, en dink aan die wortels en grond… aan God wat vir jou help om so mooi en lekker te leef…

Doen dinge

Doen iets in liefde by die huis sodat God se liefde deur jou na die mense naby (soos boetie of sussie of die huishulp) aan jou vloei.

Kom ons bid

Sê vir God dat jy vir Hom lief is en dat jy so bly is dat Hy jou vashou en eerste liefhet.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Jesus Huil. Johannes 11:35.

Jesus het gehuil. (die Bybel vir almal)

Jesus begin toe huil. (Nuwe lewende vertaling)

Jesus het gehuil. (1983 vertaling)

Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Wanneer laas het jy gehuil? Kan jy onthou hoekom jy gehuil het? As mens treurig voel help dit partykeer om iemand te hê wat saam met jou treurig voel. Hierdie week leer ons dat Jesus iemand is wat saam met ons is wanneer ons treurig voel. Vandag se versie vertel ons van Jesus se hart.

Toe Jesus gehuil het.

Jesus was op reis toe Hy hoor dat Lasarus, Sy vriend, baie siek is. Lasarus en sy twee susters, Maria en Marta het in Betanië gewoon. Hulle was baie lief vir Jesus. Toe Jesus uiteindelik in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus gesterf het. Dit is toe dat Jesus gehuil het. Jesus het nie gehuil omdat Lasarus dood was nie, want Hy het geweet dat Lasarus weer lewendig gaan word. Jesus het gehuil omdat Maria en Marta se harte stukkend was. Hulle het gehuil, want hulle broer was dood. Toe Jesus sien hou treurig hulle is, toe huil Hy ook.

As ons huil.

Hierdie vers vertel vir ons dat Jesus saam met ons treurig is. Jesus wil hê dat ons moet weet dat Hy spesiaal naby aan ons is wanneer ons treurig is. Wanneer jy weer treurig voel, kan jy weet dat Jesus jou vashou en troos.

Bid

Liewe Jesus, baie dankie dat ek kan weet hoe verskriklik lief Jesus vir my is. Dankie dat ek kan weet dat Jesus saam met my huil en dat Jesus by my is wanneer el treurig is. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 13 Augustus, Leiers wissel – God bly.

23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page