top of page

Junior kategese geselsbriefie 4 Maart


Waar is ons in die kerkjaar?

Lydenstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Lukas 13: 10 – 18.

Week tema:

Vry ná 18 jaar.

Jesus en sy volgelinge sien mense raak wat swaarkry en verswak word deur dinge wat hulle “vasbind”. Hulle raak dadelik (op enige dag) by hulle betrokke om hulle “los” of vry te maak.

Agtergrond in interpretasie

In verlede week se lessie was 12 jaar ʼn belangrike tydperk. Lukas vertel hier van ʼn ander vrou wat 18 jaar lank ʼn probleem gehad het.

In hierdie Skrifgedeelte is daar ʼn woordspeling tussen die Griekse stamwoord vir “bind” en vir “losmaak” (δέω en λύω). Ons kan dit (geforseerd) soos volg vertaal:

Vers 12: Mevrou, jy is losgemaak van jou gebrek.

Vers 14: Daar is ses dae in ʼn week waarop jy vasgebind is om te werk (jy móét werk).

Vers 15: Maak julle elkeen nie sy bees of donkie van die krip los nie?

Vers 16: En hier is ʼn vrou… wat werklik al 18 jaar deur die Satan vasgemaak (gebind) is. Is sy dan nie vasgemaak (“bound”) om losgemaak te word van hierdie vasmaak (“binding”; band) nie?

Hierdie woordspeling laat ʼn mens saam met die vroeë kerk, vir wie Lukas geskryf het, nadink oor die vryheid of gebondenheid (los of vas wees) van Christene. Christenwees beteken: Jy is vasgemaak om losgemaak te wees (jy is bestem; jy moet los wees). Wanneer jy aan Jesus vas is, is jy los (vrygemaak; Gal 5:13-14).

Die Fariseërs het gehou van vasmaak. As agtergrond vir hierdie verhaal moet ons iets verstaan van die terme “bind” en “losmaak” of verlos (δέω en λύω) soos die Fariseërs dit verstaan het.

Jesus het ook aan sy dissipels (Petrus) die werk gegee om los te maak en vas te maak. Ons lees in Matteus 16:19: “… en wat jy op die aarde toesluit (vasmaak/bind) sal in die hemel vas wees/toegesluit bly, en wat jy op die aarde losmaak/oopsluit, sal in die hemel los bly/oopgesluit bly.”

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Jesus maak ʼn vrou vry en sy begin God dadelik prys.

  2. Jesus wys sy teenstanders tereg en maak die mense bly.

Uitkoms

1. Nadenke: Is ek vas of is ek los? Aan wie?

2. Aanmoediging: Volgelinge van Jesus word gestuur om mense vry te maak van die ou dinge wat hulle ongelukkig maak deur hulle aan God te verbind.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink nou oor jouself. Is daar iets of iemand waaraan jy so vas is dat jy nie aan God vas is nie?

Dink nou ook aan die hoof van die sinagoge. Vir hom was die reëls baie belangrik. Vir Jesus is mense die heel belangrikste. Wanneer ons swaarkry, sien Hy ons raak.

Leef dinge

God maak ons aan Hom vas sodat ons regtig gelukkig kan wees en sodat Hy ons tussen ander mense kan gebruik. Partykeer dink ons die hele lewe is net ʼn klomp moets en moenies. Later voel ons so vasgebind dat ons niks kan doen wat lekker is nie. Soms dink ons dit is God wat ons so vasbind.

Hierdie verhaal wys vir ons iets anders: Jesus maak ons los en vry en gelukkig. Die een wat ons ongelukkig maak, is die Bose, Satan. Hy wil ons van die Here af wegtrek. En weet jy wat? Ons dink baiekeer slegte dinge kan ons gelukkig maak. Dis eers wanneer ons regtig vir Jesus leer ken dat ons ontdek hoe Hy ons gelukkig maak en vry maak van die dinge wat ons “laat kromtrek” en na die verkeerde dinge laat kyk.

Jesus het ons lief.

Gesels dinge

Gesels by die huis saam oor siektes wat ʼn mens kan laat krom trek, soos hierdie vrou kromgetrek was. Aan watter siektes kon julle

Soms is reëls nie vol liefde nie. Wat moet ons dan doen?

Doen dinge

Ken julle iemand wat al baie lank siek is? Hoe kan julle die Goeie Nuus van Jesus vir hulle gaan uitleef? Beplan saam om dit te doen.

Kom ons bid

Bid vir vrede vir mekaar.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Moet nie terug kyk nie Filippense 3:13 – 14

  • Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om ʼn prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus. (die Bybel vir almal)

  • Ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee. (Nuwe lewende vertaling)

  • Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. (1983 vertaling)

  • Daarom steur ek my nie aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ʼn atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Dink aan die slag toe jy in ʼn resies gehardloop het. Toe jy gehardloop het, wou jy hê dat jou bene jou so vinnig as moontlik moes dra. Wat moet mens doen om ʼn resies te wen? Wat moet mens nie doen nie as jy ʼn resies wil wen? Een ding wat jy nooit moet doen nie, is om om te kyk. Jy wonder dalk hoe vêr die ander agter jou is, maar as jy omkyk hardloop jy stadiger. Jy moet gefokus bly op die wenpaal! Hierdie week gaan Paulus ons vertel hoe om die resies van die lewe te wen.

Kyk vorentoe.

Paulus was ʼn sendeling wat na baie verskillende plekke gereis het om mense van Jesus te vertel. In vandag se versies vertel Paulus die nuwe Christene dat hulle nie hoef te bekommer oor die dinge war hulle vroeër verkeerd gedoen het nie. Hulle moet net vorentoe kyk na Jesus dan sal die hemelse prys vir hulle wag.

Hou net aan.

Is daar iets wat met jou gebeur het waaraan jy baie dink? Sit dit agter jou sodat jy kan fokus op vandag en môre. Probeer weer en onthou die prys in Jesus en hardloop!

Bid

Jesus, help my om nie op die verlede te fokus nie, maar laat ek vandag en môre aan Jesus dink en Jesus in my hart dra. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Wat keer my.

31 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page