top of page

Junior kategese geselsbriefie 25 Maart

Waar is ons in die kerkjaar?

Lydenstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Lukas 19: 28 – 40.

Week tema:

Die klippe sal uitroep.

Jesus se teenwoordigheid is iets waaroor ons bly kan wees, en bly móét wees.

Agtergrond in interpretasie

Vandag se verhaal lei die laaste Lydensweek in. Die Sondag waarop ons aan die intog in Jerusalem dink, word Palmsondag genoem. Dit vind plaas net voordat Jesus Jerusalem ingaan, net voor sy kruisiging en opstanding. Terwyl Hy op pad was na Jerusalem vir die Paasfees, het Jesus die mense in baie dorpe geleer en genees. Teen hierdie tyd het hy ʼn groot aanhang gehad en Hy was baie gewild.

Sagaria 9:9 voorspel die koms van ʼn spesiale koning wat op ʼn donkie sou ry. Hierdie koning word in Sagaria gestel teenoor die mense op hulle strydwaens en perde wat oorlog maak. Hierdie nuwe koning sal vrede vir die nasies aankondig. Miskien kan ons ook iets aflei uit die feit dat niemand nog ooit op hierdie jong donkie gery het nie. Dit was ʼn spesiale jong rydier vir die nuwe koning.

In die gedeelte, fokus ons net op Jesus se goed-beplande intog en die spontane respons wat dit by die skare uitlok. Weer eens is dit die Fariseërs wat nie hiervan hou nie en wat wil hê Jesus moet die skare stilmaak. Hulle reaksie kontrasteer met die reaksie van die skare. Waar Jesus werk, lok dit altyd reaksie uit: Lofprysing of teenstand. Dis asof die verhaal ons intrek en vra aan watter kant ons is.

Die verhaal maak dit duidelik dat Jesus se lof nie afhanklik is van ons lofprysing nie. As die mense stilbly, sal daar ander maniere wees om Hom te loof – selfs skynbaar dooie dinge soos die klippe sal uitroep. (Ongeag of dit die klippe langs die pad of die groot ingeboude klippe van die tempel is.)

Jesus se lyding kom na vore in die trane wat Hy oor Jerusalem stort: Die stad besef nie wat nodig is vir sy vrede nie, en word daarom uitgelewer aan die “onvrede” of vyande. Hierdie verwysing van Lukas na Jesus se hartseer oor Jerusalem sal later dien as ʼn soort verklaring vir wat met Jerusalem gebeur, en as waarskuwing om Jesus as Redder nie mis te kyk nie.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Jesus stuur twee dissipels om die donkie te haal.

  2. Die skare volgelinge juig oor Jesus se koms.

  3. Sommige Fariseërs vra Jesus om die skare stil te maak.

Uitkoms

Lofprysing: Gaan staan in die skare se skoene en loof Jesus saam met hulle.

Troos: Hier is ʼn boodskap wat nie stilgemaak kan word deur afgunstige mense nie.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink oor die volgende vrae:

1. Hoekom was almal so bly om vir Jesus te sien?

2. Is jy ook bly oor Jesus en omdat Hy vandag by jou is?

3. Waarom was dit so belangrik dat die mense moes sing en God prys?

4. Kan ons stilbly oor Jesus? Hoekom, of hoekom nie?

5. Sal die klippe moet uitroep omdat ons stilbly oor Jesus?

Leef dinge

In hierdie verhaal sien ons weer twee groepe mense: Die een groep was bly oor Jesus, en die ander groep was afgunstig op Hom.

Ons is in die groep wat bly is oor Jesus. Daarom kan ons oral oor Hom sing en praat. Ons kan altyd dink aan wat Jesus gesê het: As ons dit nie doen nie, sal die klippe dit doen. Die lof wat Jesus toekom, kan tog nie gekeer word nie. Ons is genooi om Hom te loof.

Gaan wees nou bly oor Jesus. Vind maniere en plekke om oor Jesus bly te wees.

Gesels dinge

Lees Psalm 118:19-21, 24-27 en dink saam oor Palmsondag. Hierdie psalm laat ons dink aan iemand wat in die tyd van die Ou-Testament na die tempel gegaan het vir ʼn fees. Praat saam oor hoe dit voel om vir ʼn erediens kerk toe te gaan.

Kom ons bid

Dankie Jesus dat ons Paasfees mag vier.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Die Josua kode. Josua 1:8

  • Jy moet aanhou om te lees wat in hierdie wetboek staan, jy moet elke dag en elke nag daaroor dink, dan sal jy seker maak dat jy alles doen wat daarin geskryf is. Jy sal kan doen wat jy moet doen en jy sal slaag. (die Bybel vir almal)

  • Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. (Nuwe lewende vertaling)

  • Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. (1983 vertaling)

  • Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Inleiding

Gerhard en Anton hou baie van rugby. Anton en Gerhard wil graag in die rugbyspan wees. Gerhard besluit dat hy elke middag gaan oefen, want oor twee weke word die span gekies. Anton ry eerder fiets en speel rekenaar speletjies. Anton oefen glad nie. Wie dink jy gaan gekies word vir die span, Anton of Gerhard? Hoekom.

Wat is sukses?

Om suksesvol te wees beteken om iets te kry waarvoor jy baie hard gewerk het. Vandag se vers vertel vir ons hoe om ʼn suksesvolle lewe te lei.

Lees, praat en doen

Josua vertel vir ons dat ons God se woord – die Bybel – altyd in ons harte en gedagtes moet hê Ons moet die Bybel lees, die Bybel leer ken en God se woord praat. Josua leer ons dat as ons nie net moet lees en dink nie, maar ons moet ook gehoorsaam wees en doen.

Deur ons versies te leer is ons besig om te doen wat Josua ons geleer het.

Bid

Jesus, dankie vir die Bybel. Help my asseblief om hierdie week die Bybel te lees en daaroor te praat en dit wat ek leer te doen. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Volgende Sondag is Paasfees. Ons begin weer Sondag 15 April – wat glo jy?

51 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page