top of page

Junior kategese geselsbriefie 6 Mei


Waar is ons in die kerkjaar?

Opstandingstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here. In hierdie verhouding is daar kommunikasie. Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad. Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef. Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander. Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus. Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg. Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg. Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie. Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef. Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie. Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie. Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

Handelinge 9: 1 – 31.

Week tema:

Is dit dan nie die man wat...?

Die Here kies die man wat sy volgelinge met passie wou uitroei om met daardie selfde passie sy werktuig op nuwe paaie te wees.

Agtergrond in interpretasie

In Handelinge 7:58 en 8:1 ontmoet ons die jongman Saulus. Hy het die Christene gehaat en saam met ander Jode alles in die stryd gewerp om die nuwe beweging wat Jesus begin het, uit te roei. Hy het Jesus se volgelinge vervolg en laat doodmaak… totdat die Here hom ontmoet het.

Paulus se bekering word in Handelinge 9:1-19 beskryf, en dan weer in 22:4-16 en 26:12-18, waar hy van sy bekering vertel. Die feit dat Lukas hierdie verhaal drie keer in sy boek opneem, wys vir ons hoe belangrik dit is.

Toe die Here vir Saulus ontmoet, word hy blind. Later kon hy toe as’t ware met nuwe oë na alles kyk. Saulus was toe ʼn nuwe mens met ʼn baie besonderse roeping – om die Goeie Nuus van Jesus aan die heidennasies te verkondig.

Ons kan goed verstaan hoekom mense eers baie agterdogtig was toe Paulus begin preek en Jesus as die Seun van God en die Verlosser van mense verkondig het. Hy was immers voorheen ʼn vervolger van Jesus se volgelinge. Vir die Jode wat steeds Jesus se volgelinge probeer uitroei het, was Paulus nou ʼn gevaar. Daarom het hulle hom probeer vermoor toe hy die mense in Damaskus oortuig het dat Jesus die Christus is.

Medegelowiges laat Paulus egter een nag in ʼn mandjie deur ʼn opening in die stadsmuur afsak. Só kon hy vlug. Paulus is toe terug na Jerusalem om by die volgelinge van Jesus aan te sluit. Hulle kon nie glo dat hy nou ʼn volgeling van Jesus was nie. As dit nie vir Barnabas was wat vir hom ingetree het nie, sou niemand vir Paulus geglo en aanvaar het nie.

Toe die Jode in Jerusalem hom ook probeer vermoor, het sy vriende hom na Tarsus toe gestuur. Dit het ʼn tydperk van rus en vrede ingelei waarin die kerk kon groei.

Hier is ʼn paar interessante feite:

  1. Tarsus was Paulus se geboortestad (Hand 22:3).

  2. Hy het in Jerusalem grootgeword (22:3).

  3. Hy was ʼn student van Gamaliël, ʼn bekende en geleerde Fariseër in die Joodse Raad (5:34; 22:3).

  4. In Galasiërs 1:15-17 lees ons dat Paulus ná sy bekering en sy optrede in Damaskus eers drie jaar lank Arabië toe is voordat hy teruggekeer het na Damaskus en van daar na Jerusalem gegaan het.

  5. Ons lees eers van Saulus, maar in Handelinge 13:9 verander sy naam skielik na Paulus. Saul of Saulus is ʼn Joods-Hebreeuse naam. Paulus is ʼn Latynse naam. Waarskynlik is die Latynse naam eerder gebruik toe Paulus die Griekse wêreld as sendeling ingegaan het.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Saulus vervolg die Christene, maar Jesus keer hom.

  2. Die Here berei Ananias voor om Saulus te ontmoet.

  3. Saulus se oë gaan oop en hy begin preek.

  4. Saulus word amper vermoor.

Uitkoms

God kan enige mens volkome laat omkeer en verander.

Volgelinge van Jesus kan teenstand verwag.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Die Here het vir Saulus verander en vir hom gesê Hy het ʼn spesiale werk vir hom. Maar hy moes wag totdat die tyd daarvoor reg was. Die Here werk dikwels só, en ons raak soms ongeduldig wanneer ons moet wag.

Leef dinge

Weet julle wat het Saulus later vir die mense in een van sy gemeentes geskryf? “Om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins.” Dit beteken sy hele lewe het om Jesus Christus gedraai. As hy sou doodgaan en by Jesus kon wees, sou dit vir hom nog beter wees…

Doen dinge

Lees Galasiërs 1:11-24 en verduidelik vir mekaar wat dit vir julle beteken.

Gesels dinge

Vertel vir mekaar wat met ons gebeur wanneer ons lank moet wag voordat ons met iets kan begin.

Kom ons bid

Bid saam vir geduld.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer. Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer. As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Een laaste ding. Handelinge 1:8.

  • Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld. (die Bybel vir almal)

  • Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde. (Nuwe lewende vertaling)

  • Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot by die uithoeke van die wêreld. (1983 vertaling)

  • Dan gaan julle oral oor My praat: hier in Jerusalem, maar ook in die hele Judea en Samaria. Ja, selfs tot aan die verste uithoeke van die wêreld. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Inleiding

Net voor Jesus opgeneem is in die hemel, het Jesus een laaste ding gesê voor sy tyd op aarde klaar was. Jesus het vir sy dissipels een laaste opdrag gegee. Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels was hierdie week se versie.

Jesus vertel vir al sy volgelinge – ek en jy ook – dat ons krag van die Heilige Gees sal ontvang en dat ons Sy getuies moet wees. Om Jesus se getuies te wees, beteken dat ons vir ander mense van Jesus moet vertel.

Vir wie is die versie?

Die versie is vir almal wat in Jesus glo en gekies het om Hom te volg.

Wat gee die Heilige Gees vir ons?

Die Heilige Gees gee vir ons krag om getuies vir Jesus te wees. Die krag kan vir ons die moed gee om ander mense van Jesus te vertel.

Wanneer kry ons die krag?

Ons kry die krag die oomblik wanneer die Heilige Gees in ons lewens kom – die oomblik wanneer ons God vertel dat ons in Hom glo en dat ons wil hê Hy moet in beheer van ons lewens wees.

Hoekom het ons die krag nodig?

Omdat dit baie keer moeilik is om ander mense van God te vertel, het ons ekstra krag en hulp nodig.

Waar vertel ons vir mense?

Jesus wil hê dat ons Jesus met die mense om ons moet deel. Dit is ons bure, ons vriende en ons families. Dan wanneer ons die kans kry, kan ons met vreemde mense oor Jesus praat.

Bid

Dankie Jesus vir die krag wat ek by die Heilige Gees kry. Help my om ʼn getuie te wees. Amen

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Sondag 12 Mei – Almal is welkom

64 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page