top of page

Junior kategese geselsbriefie 10 Junie


Waar is ons in die kerkjaar?

Koningkrykstyd.

Jaar tema:

Leef soos Jesus.

Ons leef in ʼn lewende verhouding met die Here.  In hierdie verhouding is daar kommunikasie.  Ons Here neem ons hand en loop al pratend saam met ons op ons pad.  Soms luister ons wat Hy vir ons sê; ander kere luister ons nie, of ons luister half.  

Een van die wonderlike dinge wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons sy stem hoor en luister wat Hy vir ons sê, is dat ons anders begin leef.  Ons manier van leef (ons maniere, gesindheid en gedrag) verander.  Ons word en leef elke dag al hoe meer soos Jesus.  Dit het ʼn groot invloed op ons lewe en op almal rondom ons.  

In die verhale in die Bybel sien ons wat gebeur wanneer mense luister na wat die Here vir hulle sê en sy voorbeeld volg.  Ons sien ook wat gebeur wanneer mense nié na Hom luister nie en hulle eie kop volg.  Ons klim so te sê in die skoene van die Bybelkarakters en ervaar wat gebeur wanneer die Here met ons praat en ons luister… of nie luister nie.  

Een waarheid moet ons onthou: Die Here gee nooit moed op met ons nie.  Hy help ons weer en weer deur sy Gees wat in ons woon om al hoe meer soos Jesus te word en te leef.  Jesus self het belowe dat Hy by ons sal wees en ons sal help om soos Hy te leef.  Aan sy liefde vir ons is daar geen einde nie.  Daarom hou Hy nie op om ons te help om reg te leef nie.  Hy gee vir ons sy voorbeeld, die heel beste voorbeeld, om na te volg.  

Kom ons gaan leef dan nou soos Jesus…

Bybelgedeelte

1 Samuel 8: 1 - 22.

Week tema:

Die Israeliete soek ʼn koning.

God laat ons kies sodat ons goeie leiers soos Samuel kan wees.

Agtergrond in interpretasie

Samuel was lank God se mond onder die volk.  Hy het hulle gelei, want hy was getrou aan God se raad en leiding.  Toe hy oud word, het hy sy seuns aangestel om die Israeliete in sy plek te lei, maar sy seuns het nie altyd na God geluister nie.  Daarom het dit sleg met God se volk begin gaan. Hulle het na ʼn nuwe leier begin soek.  Die volke wat rondom die Israeliete gewoon het, het almal konings gehad.  Toe wou die Israeliete ook ʼn aardse koning in God se plek hê.

God het vir Samuel gebruik om met die volk hieroor te praat.  Hy wou hê sy volk moes besef konings kan onredelik en selfgesentreerd wees.  Dit sou hulle ook baie kos om ʼn koning te hê.

Die Bybel wil ons laat verstaan dat ʼn volk se leiers kan kies hoe hulle die mense wil lei: Eer hulle God en tree hulle volgens sy wil en beginsels op, of eer hulle net hulleself?  Iemand het dit soos volg gestel:

Hierdie hoofstuk beskryf dus iets van die spanningsveld tussen mense wat enersyds oorheers word deur aardse mag (koning) en mense wat andersyds verbind is aan God en wat hulle lewe inrig volgens God se “reg en verkeerd”, dit is, liefde vir mekaar (etiek).  Konings “vat” en maak mense gewoonlik slawe, maar God maak mense vry.  Die ironie in die verhaal is dat die mense wat God se reg moes laat gebeur (Samuel se seuns) ook “vat”-mense geword het.  Die verhaal is krities teenoor leierskap wat slawe van mense maak en laat ons daarom soek na leierskap wat vrymaak en wat mense help om mekaar lief te hê soos die Here die Israeliete vrygemaak het met die uittog uit Egipte en hulle deur sy verbondswoorde of gebooie geleer het om lief te hê.  Hierdie hoofstuk word ʼn soort kritiese norm waarteen die monargie later gemeet sou word.  Dit laat ons ook krities kyk na ander vorme van leierskap.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Die volk kla by Samuel oor sy ouderdom en oor sy seuns en vra ʼn koning.  

  2. Samuel raadpleeg God oor die volk se versoek.  God en Samuel sien en beleef hoe die volk verkeerd kies.

  3. God waarsku sy volk deur Samuel: Konings gee nie, maar “vat”.  Dit gaan vir konings meestal oor hulleself. As hulle so ʼn koning sou kies en later swaar sou kry en om hulp sou roep, sou die Here hulle nie help nie (ʼn ernstige waarskuwing).

  4. Die volk kies om voort te gaan met hulle plan.  God laat hulle toe om “soos die ander nasies te wees” (8:5, 20).  Die Israeliete was anders omdat hulle aan God as hulle enigste Koning verbind was.  Dit sou nou verander.

Uitkoms

Gaan staan in Samuel se skoene en… 

·         dink na oor die samelewing. (Verander dit?)

·         dink na oor Christene se andersheid en keuses. (Wees           soos al die ander?)

·         dink na oor leiers. (Kies om ʼn slaaf te word of te wees,           of kies ʼn “vat”- leier?)

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink aan jou huisgesin.  Jy moet vir jou pa of ma luister.  Soms moet hulle jou help om reg te kies.  Ons almal kies baiekeer net wat vir ons goed en reg is omdat ons vir onsself so belangrik is.  Dan is ons soos ʼn “eier”.  God wil jou help om die regte besluite te neem – om vir Hom ʼn leier te wees.

Dink hieroor:

·         Kies jy soms verkeerd, net soos die Israeliete verkeerd           gekies het?

·         Hoe kan jy seker maak jy luister na God se stem sodat           jy reg kan kies en reg kan leef?

·         Partykeer is dit vir ons moeilik om na God te luister,                 want Hy praat nie hoorbaar met ons soos mense nie.               Wat doen ons dan?

Doen dinge

1. Kom ons gaan wees goeie leiers hierdie week.  Wanneer jy by die huis kom, vra of jy vir jou ma of pa kan koffie maak.  ʼn Goeie leier weet sy of haar mense is belangrik.

2. Goeie leiers luister saam na God.  Vra vir jou ma of pa om saam met jou na God se stem te luister. Vertel dan vir hulle dat ʼn slegte leier eintlik ʼn vrot eier is.

Leef dinge

In jou lewe en in jou skool moet jy baie keuses maak.  Daar gaan nog baie kere in jou lewe wees dat jy sal moet kies wat reg en wat verkeerd is.  Kom ons kies om soos Samuel te wees.  Hy het reg gekies.  Daarom was hy ʼn goeie leier.  Hy het na God geluister, en na sy mense omgesien.  Gaan wees jy ʼn goeie Leier.  Kies reg! 

Gesels dinge

1. Gesels hierdie week met die mense in jou huis oor hierdie twee stellings:

·         Goeie leiers weet hulle moet luister na wat God sê oor hoe om ander mense te lei.

·         Goeie leiers weet dit gaan oor mense.

2. Gesels saam oor hoe julle tyd kan maak om na God se stem te luister.

3. Hoe kan jy God se mond onder jou maats wees?

4. Dit is soms moeilik om reg te kies, veral as jy tussen jou maats is.  Wat maak dit so moeilik?

5. As jou lewe anders lyk as jou vriende sʼn, moenie bekommerd wees nie.  Dalk lei God jou om anders te wees.  Luister na Hom.

Kom ons bid

Dankie Here ons Samuel se voorbeeld gekry het, help ons asseblief om ook soos Samuel te wees.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte by van ons ouers dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer.  Ek stuur hierdie gedeelte in blou, saam met die geselsbriefie, om jou te help om die Bybel vir jou kind te leer.  As jy wil.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Ontvang lewe.  Romeine 6:23.

  • As mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf.  Maar God is goed vir ons, Hy sal vir ons die ewige lewe gee, vir ons wat behoort aan Christus Jesus, ons Here. (die Bybel vir almal)

  • Want wat die sonde uitbetaal, is die dood.  Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here! (Nuwe lewende vertaling)

  • Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. (1983 vertaling)

  • Ek sê weer: as ʼn mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning.  So eenvoudig is dit.  God gee egter aan ons die ewige lewe verniet.  Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Inleiding

Dink bietjie aan ʼn keer toe jy slegte nuus gekry het.  Wat was die nuus Hoe het jy gevoel?

Dink nou aan ʼn keer toe jy goeie nuus gekry het.  Hoe het jy toe gevoel?  Wat sal jy eerder wil hê goeie nuus of slegte nuus?  Hoekom sal jy eerder die goeie nuus wil hê?  Hierdie week se versie het beide goeie en slegte nuus.

Die slegte nuus.

Die eerste deel van die versie sê dat as iemand sondig, verdien hy die dood.  Wanneer ons sondig, verdien ons om gestraf te word en daardie straf is om weg van God te wees.  Die straf vir sonde is die teenoorgestelde van om saam met God in die Hemel te wees.  So die prys vir sonde is die dood, maar dit is nie al nie...

Die goeie nuus.

Die vers sê ook “God gee vir ons ʼn geskenk – die ewige lewe.”  Ja die straf vir sonde is die dood, maar God wil ons graag by Hom hê al sondig ons.  God is baie lief vir jou en daarom het Jesus gekom om vir ons die ewige lewe te kom gee al verdien ons dit nie. Dít is die beste nuus ooit!

Bid

Dankie Here vir die goeie nuus!  Dankie dat ek die ewige lewe gekry het al het ek dit nie verdien nie.  Here, ek is baie lief vir jou.  Amen

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende Sondag

Sondag 17 Junie – Geen kategese.

Sondag 22 Julie – Kategese (Saul word koning), Nagmaal by Oggenddiens en Gesinsdiens.

104 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page