top of page

Geselsbriefie 20 Januarie


Liewe ouers

Hier is die geselsbriefie vir die junior kategese, Sondag 20 Januarie 2019.

Waar is ons in die kerkjaar?

Epifanie of Verskyningstyd.

Jaar tema:

Wow, dis waar.

Bybelgedeelte

Johannes 2:1-12.

Week tema:

En dié wyn?

Jesus help ons om nog meer in Hom te glo wanneer Hy gewone dinge in buitengewone

dinge verander om mense bly te maak.

Agtergrond en interpretasie

Hierdie verhaal speel in Kana af. Daar is geen sekerheid oor na watter Kana hier verwys

word nie, behalwe dat dit naby Nasaret was. Jesus en Maria was moontlik familie of vriende

van die bruidspaar of hulle familie. Maria het dalk gehelp om die bruilof te reël.

Die gedeelte word eintlik deur vers 11 oopgesluit:

· Dis die eerste wonderteken. Johannes gebruik in die eerste deel van sy Evangelie ʼn hele

paar wondertekens wat die kerk (die gelowiges op aarde) se geloof kan vorm en/of

versterk. (Vgl. die genesing van ʼn seun in Joh. 4, die genesing by die bad van Betesda in

Joh. 5, die vermeerdering van die brood om ʼn klomp mense kos te gee in Joh. 6, die

genesing van ʼn blinde man in Joh. 9, die opwekking van Lasarus in Joh. 11, en natuurlik

die kruisdood en opstanding van Jesus in die laaste hoofstukke van die Evangelie.

Sommige mense laat die kruisdood van Jesus weg en voeg die wonder van Jesus wat op

die see geloop het in 6:16 ev. hier by.)

· Jesus wys sy mag (heerlikheid). Johannes 1:14 praat van die "heerlikheid" wat die

enigste Seun het – dieselfde heerlikheid wat God die Vader het. Die woord wat hier vir

"heerlikheid" gebruik word, is doksa. In 2:11 word dit met "mag" vertaal. Die

wonderteken wys hier wat in 1:14 reeds uitgespreek is: Die Seun het dieselfde

heerlikheid as die Vader (sien ook Joh. 17:5). Op aarde was Jesus se heerlikheid nie altyd

vir almal sigbaar nie. Wanneer Hy iets gedoen het wat sy heerlikheid bewys het, was dit

ʼn teken ...

· Die dissipels glo in Jesus. Jesus kan mense en dinge verander. Hy verander water in wyn

en Hy verander mense sodat hulle in Hom glo. Die verandering wat Jesus bring, gee

vreugde!

Ander opmerkings:

· Die klipkanne was groot houers met water wat die mense kon gebruik om hulle te reinig

voordat hulle saam geëet het (Mark 7:1-4).

· Maria het reeds geweet daar is iets groots aan Jesus, maar die tyd wanneer dit

algemeen bekend sou word, het nog nie aangebreek nie (Joh. 12:24-28.)

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Toe die wyn opraak, glo Maria Jesus kan die probleem oplos.

  2. Jesus neem leiding en verander water in uitstekende wyn.

  3. Jesus wys sy heerlikheid (mag) en help mense glo.

Uitkoms

1. Insig: Jesus se wonderwerke wys vir ons wie Hy is.

2. Respons: Volg Jesus met blydskap.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink oor hierdie wonderwerk. Was die wonderwerk "nodig", of was dit maar net iets wat Jesus gedoen het om ʼn skande te vermy en mense bly te maak?

Dink ook oor die dissipels. Hoekom het hulle in Jesus geglo?

Dink nou aan die seremoniemeester en die bruidegom. Hulle het nie geweet Jesus het ʼn wonderwerk gedoen nie. Ons weet egter Jesus het die water in wyn verander. Nou is die vraag: Glo ons met ons hele hart in Jesus?

Johannes het hierdie wonderwerk heel aan die begin van sy verhaal oor Jesus se lewe vertel. Ek dink hy wou vir ons iets sê: Jesus maak alles nuut en Hy bring groot blydskap.

Doen dinge

Lees saam die Apostoliese Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ‘n ewige lewe.

Leef dinge

Jesus het gekeer dat daar ʼn skande by hierdie troue gebeur deur ʼn wonderwerk te doen. Hierdie wonderteken het gewys wie Hy werklik is. Sy dissipels het in Hom geglo en Hom gevolg.

Jesus nooi ons ook om in Hom te glo en Hom met ons hele hart te volg.

Jesus het by die troue blydskap gebring. Hy bring vandag nog vir ons blydskap. Hy is by ons. Kom ons gaan uit en vertel oral waar ons gaan vir ander mense van Jesus se blydskap.

Gesels dinge

1. Jesus bring vir ons nuwe verrassings. Wanneer ons Hom volg, is daar ook vir ons nuwe verrassings. Is dit waar of onwaar?

2. Jesus laat dinge gebeur om ons te help om in Hom te glo. Kan julle aan voorbeelde dink?

3. Johannes 2:23-25 sê die mense het Jesus se wonderwerke gesien en Hom vertrou en in Hom geglo. Maar Jesus het nie die mense vertrou nie. Wat, dink julle, beteken dit dat Jesus die mense nie vertrou het nie?

4. Besluit saam hoe julle hierdie sin wil voltooi: Wanneer mense my teleurstel ...

Kom ons bid

Dankie Here dat Jesus vir my sy heerlikheid wys om my te help om te glo..

Sondag 27 Januarie

In die pikdonker nag.

32 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page