top of page

Geselsbriefie 27 Januarie


Liewe ouers

Hier is die geselsbriefie vir die junior kategese, Sondag 27 Januarie 2019.

Fees van die lewe

Die Ooskerk se tema vir die jaar is: Meer van die lewe. Ons wil dus meer van die lewe leer, ervaar en vier. Ons wil die nuwe lewe in 2019 VIER deur saam ‘n fees te hou! Hierdie fees vind plaas op 3 Februarie direk na die oggenddiens. Soos in die verlede gaan ons lekker saam kuier, eet en ontspan. Daar sal heerlike kos en drinkgoed te koop wees. Kom geniet hierdie feestelike geleentheid saam met ons!

Waar is ons in die kerkjaar?

Epifanie of Verskyningstyd.

Kategese jaar tema:

Wow, dis waar.

Bybelgedeelte

Johannes 3:1-21.

Week tema:

In die pikdonker nag.

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om almal wat in Hom glo, te red.

Agtergrond en interpretasie

Johannes 3:16-17 sluit hierdie gedeelte vir ons oop. Daar is egter talle ander interessante feite wat ons eers moet raaksien:

· Johannes 1:9 praat van “die ware lig” wat na die wêreld toe gekom het (vgl. 3:19). Hier lees ons egter van ʼn geleerde man wat in die pikdonker nag na Jesus toe gegaan het. Hy was ʼn Joodse geleerde, deel van die groep wat Jesus nie as God se Seun wou erken nie en só in die donkerte gebly het. Maar hierdie man, Nikodemus, het van Jesus se wondertekens geweet (v 2) en hy wou uitvind wat regtig aangaan. Hy het tot op die grens tussen donkerte en lig gestap.

· Dié gedeelte draai om drie vrae (vraag 1 word net veronderstel) en die antwoorde wat Jesus gee: Hoe kan ʼn mens by God se koninkryk ingaan? Hoe kan ʼn mens weer gebore word? Hoe werk hierdie wedergeboorte? (Hoe is dit moontlik?)

· Om weer (van bo af) gebore te word is nie iets wat ons self kan doen nie. Om weer gebore te word is iets wat die Heilige Gees laat gebeur. Dit beteken nie net ons doen die regte dinge (kom die wette na) nie. Dit beteken ons word heeltemal nuut, asof ons as ʼn “nuwe ek” gebore word.

· Geen mens op aarde was al ooit in die hemel nie (Spr. 30:4). Omdat Jesus van die Vader af gekom het, kon Hy egter vir die mense van die hemelse dinge vertel. Hy was anders as gewone mense.

· Jesus het gekom om “verhoog” te word, dit wil sê, Hy sou aan die kruis opgehang word soos die slange in die woestyn (Num 21:8). Dit was God se plan om alle mense te red.

· Om hierdie gedeelte vir die kinders verstaanbaar te maak, kan jy oorsigtelik vir hulle meer vertel van Nikodemus, van lig en donkerte, geboorte en weergeboorte, en van hoe die Israeliete na die slang op die paal moes kyk sodat hulle nie sou doodgaan nie. Johannes 3:16-17 kan dan verduidelik en aangeleer word.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Nikodemus het ʼn vraag vir Jesus: Hoe kan ʼn mens in God se koninkryk kom?.

  2. Nikodemus het nog ʼn vraag vir Jesus: Hoe kan ʼn mens weer gebore word?

  3. Nikodemus het ʼn derde vraag: Hoe is dit moontlik om weer gebore te word?

  4. God het ons lief en stuur vir Jesus aarde toe om ons te red.

Uitkoms

Insig: God het vir Jesus aarde toe gestuur om mense te red – ook vir my en jou.

Aanleer: Leer Johannes 3:16 en besef ek en jy is deel van die wêreld.

Leef: Jesus het ons almal lief; daarom kan ons ook ander mense liefhê.

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Kan ons goeie dinge doen en dan dink ons het die ewige lewe? Dink julle God hou ’n lys van

alles wat ons reg en verkeerd doen? Hoe baie probeer ons om die regte dinge te doen?

Hoeveel verkeerde dinge doen ons?

Jesus het ʼn groot verrassing gebring vir almal wat gedink het hulle kan die ewige lewe kry

as hulle maar net goeie dinge doen. Wat is hierdie verrassing? God gee vir ons die ewige

lewe soos ʼn present. Daar is niks wat ons kan doen om dit te verdien nie. Al doen ons

verkeerde dinge, wil God nog altyd hê ons moet sy kinders wees. En as ons eers eenkeer God

se kind is, is ons altyd sy kind. Hy help ons dan ook om soos sy kind te leef.

Doen dinge

Lees Johannes 3:16.

Lees Johannes 3:17. Wat het Jesus nié kom doen nie?.

Leef dinge

Eintlik het Jesus vir Nikodemus gesê: “Glo in My, en die Heilige Gees sal sorg dat jy weer

gebore word.” Dit is presies wat Jesus vir my en jou ook sê.

Kom ons sê vandag weer vir Jesus dat ons in Hom glo. Miskien het jy dit al baie gesê. Sê

dan vandag vir Hom dankie dat Hy jou help om al hoe meer soos sy kind te leef.

Of miskien sê jy vandag vir die eerste keer vir Jesus dat jy in Hom glo. Doen dit sommer

nou. (Gee ʼn oomblik van stilte).

Wanneer ons nou huis toe gaan, sal ons nie anders kan as om te dink oor hoe lief Jesus

vir ons is nie. As Hy dan vir ons, wat soveel verkeerde dinge doen, so lief is, kan ons moes

ook vir ander mense lief wees en vriendelik met hulle wees. Wanneer ons, God kinders, vir

ander mense lief is, sal hulle besef God is ook lief vir hulle en dat Hy wil hê hulle moet sy

kinders wees.

Gesels dinge

Hoe lyk Jesus se klub? Wat doen die mense in Jesus se klub?

Jesus maak vir God mense bymekaar. Hy noem ons nie ʼn klub nie, maar “kinders van God”. Wie is almal deel van Jesus se groep? (Mense wat weergebore is, dit wil sê, almal wat in Jesus glo.) Niemand word van Jesus se groep uitgesluit nie. Almal is by Hom welkom.

Kom ons bid

Dankie Here dat Jesus my in sy groep wil hê.

Sondag 3 Februarie

Jesus praat met haar. Fees van die lewe.

71 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page