top of page

Junior kategese geselsbriefie: 11 Junie


Waar is ons in die kerkjaar?

Ons is in Koningkrykstyd.

Week tema:

Baas-klaas of ouer-kind.

Hoe ek God sien, gaan bepaal hoe ek met sy riglyne sal omgaan in my lewe: óf soos ’n slaaf wat net die nodige sal doen, óf soos ’n kind wat vertrou dat sy ouer die beste weet.

Daar is twee maniere hoe jy God kan sien en dit bepaal hoe jy gaan leef: óf God het ’n klomp wette vir mense opgestel en vereis dat hulle dit stiptelik nakom (en as hulle dit nie nakom nie, straf God hulle), óf God is soos ’n liefdevolle ouer wat sy kind met riglyne wil help om vry en gelukkig te leef.

Hierdie gelykenis vorm soos die vorige een deel van ’n groep gelykenisse wat almal praat oor die (onverwagse, skielike) koms van die Here en die manier waarop Hy ingewag word. Hierdie gelykenis wil die hoorder help verstaan met watter gesindheid ons op Jesus se wederkoms moet wag.

By die gelykenis van die tien meisies was die fokus dat ons gereed moet wees vir die wederkoms. Vandag se gelykenis vertel van die gesindheid waarmee ons moet wag. Die talente of muntstukke (1 talent = sowat 6 000 mense se dagloon!) verwys nie na die gewone menslike talente soos wat ons dit in die spreektaal gebruik nie, met die gedagte dat jy die natuurlike potensiaal wat jy het, moet ontwikkel nie. Dit gaan nie soseer om die hoeveelheid wins wat gemaak is nie, maar eerder oor die betroubaarheid van die slawe en die manier waarop hulle met die eienaar se geld werk. Die eerste twee slawe was gewillig om te werk. Die derde slaaf was nie ‘goed en getrou’ nie, maar ‘sleg en lui’. Die gelykenis plaas die klem op ’n bepaalde lewensinstelling wat aan die einde van die lewe onder een van twee waarde-oordele geplaas word: ‘goed en getrou’, of ‘sleg en lui’.

Wat is die rede vir die twee slawe wat goed en getrou is en die derde een wat sleg en lui is? Die antwoord lê in die mond van die derde slaaf. Hy het die eienaar negatief beoordeel, en daarom het dit ’n effek op sy werke gehad. Wanneer ons die gelykenis lees teen die agtergrond van Jesus en sy volgelinge, beteken dit dat die volgelinge van Jesus Hom (en God) op meer as een manier kan beoordeel: Hy kan ons bevry en met vreugde en verantwoordelikheid inspireer om te werk, of Hy kan net ’n klomp eise en wette aan ons kom stel en ons laat inkeer op ’n selfgerigte lewe waarbinne dit vir ons gaan om selfbehoud. Vir volgelinge wat Jesus ontmoet as die Een wat vrymaak en lewensgeleenthede gee, is dit ’n vreugde om die koning van die koninkryk met oorgawe te dien. Vir volgelinge wat Jesus (God) slegs sien as die ‘harde man’ is daar net angs (bangheid) en die poging om so min as moontlik te doen sonder om uitgevang te word.

Die gelykenis stel dus ’n vraag aan ons: Hoe sien ek God? Hoe sien ek myself in verhouding tot God? Kind wat vry is, of slaaf (Klaas) wat gevange gehou word deur sy baas se opdragte en bevele?

Bybelgedeelte

Matteus 25:1-13.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  • Elkeen van die gelykenisse onderstreep ’n belangrike aspek van God se nuwe wêreld.

  • Die muntstukke is uitgedeel volgens hulle bekwaamheid.

  • Die goeie en getroues.

  • Die slegte, luie en aldus nuttelose slaaf.

  • Die manier waarop hy aan die eienaar en homself gedink het, het bepaal hoe hy met die eienaar se goed omgaan.

Uitkoms

  1. Nadenke: Hoe sien ek God?

  2. Aanmoediging: Dien die Here met getrouheid. Vermeerder die goeie dinge wat Hy aan ons toevertrou.

  3. Waarskuwing: As jy nie lus het om goeie dinge te doen nie, kan jy gerus weer nadink oor hoe jy God sien.

Dink, doen, gesels en bid

Dink

Daar is ’n groot verskil tussen bang wees vir iemand, of om respek vir iemand te hê en om hom te eer. As jy ’n Klaas is wat vir ’n kwaai baas werk, mag jy dalk net jou werk doen omdat jy bang is dat jy raas of straf gaan kry. As jy ’n kind is mag jy dalk baie respek vir jou pa hê en hom eer deur jou beste vir hom te gee.

Jesus se verhaal wil ons by die punt uitbring waar ons respek vir God as Vader sal betoon en waar ons Hom sal eer met die manier waarop ons na sy eiendom op aarde kyk.

https://www.youtube.com/watch?v=bbPKhYBaWRg

Doen dinge

Kyk rondom jou: Alles is eintlik God se eiendom. Kyk in jou gedagtes na God: Sien hoe lief Hy jou het – Hy het selfs sy Seun gegee om vir jou sonde te betaal. Ek hoef nie vir Hom bang te wees nie, maar ek kan Hom vereer op die manier waarop ek na al sy besittings op aarde kyk.

Dink dinge:

  • Watter werk kan jy in en rondom die huis doen om vir jou ouers te wys jy is lief vir hulle en het respek vir hulle?

  • Hoe wys ’n mens vir God dat jy vir Hom respek het?

  • Wat is die verskil tussen bang wees vir God en respek vir God?

Kom ons bid

Here, ek besef hoe groot en liefdevol God is, ek wil God graag vereer.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

ʼn Boek vir alle tye. Jesaja 40:8.

Gras en blomme word droog en verlep, maar die dinge wat God sê, sal nooit verander nie. (die Bybel vir almal)

Gras verdor, blomme verwelk, maar die woord van God bly vir altyd. (Nuwe lewende vertaling)

Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van God bly vir ewig. (1983 vertaling)

Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd. (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Het jy al gesien hoe pragtige blomme in ʼn vaas ʼn kamer sommer mooi laat lyk? Ongelukkig hou die blomme net ʼn paar dae, dan verwelk hulle. ʼn Week later is hulle dood. Dieselfde gebeur met gras, plante en selfs met ons. Dit hou net nie. Vir ʼn rukkie leef hulle en dan is hulle weg. Jesaja 40:8 leer ons dat God se Woord – die Bybel – altyd daar sal wees.

God se Woord is vir ewig.

Die Bybel is baie lank terug deur ʼn klomp skrywers geskryf. Party van die skrywers was konings ander was vissers, ander was profete, skaapwagters en onderwysers. Al die boeke van die Bybel bring vir ons een boodskap: die goeie nuus dat Jesus die wêreld kom red het. Die boodskap word reg oor die wêreld versprei in verskillende tale, want God se Woord is vir ewig.

Die ware Skrywer.

Die Bybel is deur mense geskryf wat deur God geïnspireer was (2 Timoteus 3:16). Dit beteken dat die Gees van God lewe blaas in elke versie in die Bybel. Dit is hoekom ons sê God se Woord is lewendig!

Bid

Liewe Jesus, baie dankie vir die lewende Woord. Dankie dat die Woord nooit dood sal gaan nie en dat ons weet dat dit vir ewig is. Jesus help my asseblief om hierdie versies in my hart te sit. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 30 Julie, Hoor die donkie.

82 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page