top of page

Junior kategese geselsbriefie: 17 September


Week tema:

Die Here hoor sy kinders.

Die Here hoor sy kinders wat tot Hom roep al het hulle van Hom af weggedraai en help hulle deur leiers wat Hy daarvoor gereed maak.

Rigters vertel hoe Israel in die beloofde land begin lewe, tussen groepe mense (Kanaäniete, Filistyne…) wat nie dieselfde beloftes van die Here gekry het as hulle nie – die ‘anti-promise’ mense. Hierdie mense het rondom en langs Israel-groepe gewoon en hulle op twee maniere bedreig:

1. Hulle was vyande wat Israel se grondgebied wou afvat en hulle diere en produkte vernietig of gesteel het.

2. Hulle het ander gode aangehang en gedien en dit kon Israel verlei tot afgodery.

In Rigters kry ons ’n sekere patroon wat ’n paar keer herhaal:

1. Die Israeliete doen wat verkeerd is in die oë van die Here.

2. Die Here gee hulle oor in die hande van die vyande.

3. Die Israeliete roep om hulp.

4. Die Here hoor deur ’n redder te voorsien. Hierdie patroon lei ook die verhaal van Gideon in.

Die Here loop ’n pad met Gideon en gebruik hom om sy kinders van die vyande te red. Maar die verhaal sluit af met die hartseer inligting van hoe Gideon ’n beeld van goud maak wat die mense begin aanbid het.

Bybelgedeelte

Rigters 6:1 – 22.

Hoofgedagtes van die ontmoeting

  1. Doen verkeerd, word aan vyande oorgegee, roep om hulp.

  2. Gideon word geroep en kry versekering dat die Here as redder by hom is.

  3. Huis skoonmaak van afgode! Gideon word amper doodgemaak

  4. Twyfel, maar die Here gee versekering.

  5. Te veel manskappe. Verminder tot 300, anders dink die mense hulle het hulleself gered.

  6. Nog ’n keer moed gegee deur die Here (droom).

  7. Die Here en Gideon! Die Here red.

  8. Terug op die ou dwaalweg van afgodery.

Uitkoms

1. Sê dankie vir leiers wat deur die Here gebruik word en bid vir hulle.

2. Aanbid die Redder wat hoor as ons roep.

3. Erken dat ons maklik WEER afdwaal en vra die Here om ons vas te hou!

Dink, doen, gesels en bid

Dink dinge

Dink aan ’n sekere dag toe daar iemand by die doopvont gestaan het met jou as seuntjie of dogtertjie by hulle. Dis asof die Here daardie dag by jou gestaan het, en gesê het: Ek is by jou dapper, seun of dogter.

Dis asof hierdie woorde heelpad by ons bly, ook as ons bang is en weer twyfel. Die Here troos ons dan daarmee, dat Hy by ons is en dat Hy die oorwinnaar is.

Leef dinge

Omdat ons Christene is, sê die Here vir ons ons is belangrik. Hý maak ons belangrik. Hý maak ons God se kinders. Daarom kan ons dinge doen wat ons nooit gedroom het ons sal kan doen nie. Ons maak nie oorlog en wen gewone vyande nie. Nee, Christene is dapper om dinge wat verkeerd is, reg te maak. Ons bring liefde waar daar haat is, vrede waar daar ’n bakleiery is, blydskap waar daar hartseer is. Ons wen die kwaad met die goeie!

• _Ons kan vandag dankie sê vir elke leier wat die Here vir ons gee, en bid dat hulle saam met ons aan die Here getrou sal bly.

• _Ons erken dat ons almal maklik afdwaal, en daarom moet ons vir mekaar bid en baie met mekaar praat en mekaar bemoedig.

• _Ons aanbid die Here wat ons redder is en wat hoor wanneer ons tot Hom roep om gehelp te word.

Doen dinge

Lees die Gideons verhaal hierdie week.

Gesels dinge

Vertel vir jou kinders van ʼn keer toe jy iets moes doen waarvoor jy nie eintlik kans gesien het nie.

Kom ons bid

Bid vir die leiers wat julle ken.

Leer die Bybel

Daar is die behoefte dat ons Bybelversies vir ons kinders moet leer soos toe ons in die Sondagskool was. Ek sal probeer om elke week ʼn versie saam met die geselsbriefie te stuur.

Maandag – Lees die oordenking en herhaal die versie.

Dinsdag – Memoriseer die eerste deel van die versie. Gesels oor wat dit beteken.

Woensdag – Memoriseer die middelste gedeelte van die versie. Gesels oor wat die middelste gedeelte beteken.

Donderdag – Memoriseer die laaste gedeelte van die versie en gesels oor wat die laaste gedeelte beteken.

Vrydag – lees weer die oordenking en sê die hele versie op.

Saterdag en Sondag – Sê die versie op en lê dit vir ewig vas in jou kind se wonderlike brein!

Vissers van mense. Markus 1:17

  • Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God”. (die Bybel vir almal)

  • Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!”. (Nuwe lewende vertaling)

  • Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (1983 vertaling)

  • “Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ʼn ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.” (Die boodskap)

Kies die vertaling wat vir jou die beste is.

Oordenking

Eendag stap Jesus so langs die meer. Hy ontmoet toe twee vissermanne, Simon en Andreas. Hulle het hulle nette, soos elke ander dag, in die water gegooi in die hoop om ʼn paar visse te vang. Jesus roep hulle en vertel hulle dat hulle Hom moet volg sodat Hy hulle vissers van mense kan maak. Verbeel jou jy moet mense met ʼn visstok of net vang. Wat het Jesus bedoel?

Hoe kan ek ʼn visserman word?

Daar is baie mense wat nog nie van Jesus gehoor het nie. Daar is selfs nog meer mense wat al van Jesus gehoor het, maar wat Hom nie ken nie en Hom nie volg nie. Moontlik het hulle nog nooit iemand gehad wat vir hulle Jesus se liefde gewys het nie. Jy is iemand wat Jesus volg, jy kan ʼn visser van mense wees. Om ʼn visser van mense te wees, beteken jy kyk uit vir mense in jou lewe wat Jesus beter moet leer ken, dan vang jy hulle vir Jesus.

Hoe word ek ʼn visser van mense?

Mens is nooit te jonk of te oud om mense van Jesus te vertel nie. Mens voel wel bang en vreemd, maar as jy dit ʼn keer of twee gedoen het, word dit makliker. Daar is twee maniere om mense van Jesus te vertel:

  1. Gebruik woorde. Vertel vir mense dat daar ʼn God in die hemel is wat lief is vir ons. Vertel hulle hoe jy voel wanneer jy weet dat God lief is vir jou. Vertel hoe dit was toe God jou gehelp het.

  2. Wys vir mense van Jesus deur jou dade of optrede. Wys vir mense dat jy lief is vir hulle. Help mense wanneer hulle sukkel. Wanneer mense sien dat jy Jesus se liefde in jou het, sal hulle Hom ook wil ken en hulle sal ook Sy liefde in hulle wil hê.

Kan jy aan iemand dink met wie jy Jesus se liefde kan deel? Weet verseker dat of dit nou met woorde of dade is, God sal deur jou werk om hulle te bereik.

Bid

Jesus maak my asseblief dapper sodat ek ʼn visser van mense kan wees. Wys my asseblief hoe om Jesus se liefde vir… te wys. Amen.

Sê saam:

God se Woord is vir my en aan my, dit is in my en werk deur my en net soos Sy liefde vir my, is dit vir ewig!

Volgende lessie

Sondag 1 Oktober, die Gees van die Here lei vir Simson.

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page